Sarah Trent: Gearresteer of ontvoer?

 

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Sarah Trent, ’n toegelate prokureur en werknemer van Paul O’Sullivan, gister in Johannesburg gearresteer.
Besonderhede oor die redes vir die arrestasie is nog onduidelik. Volgens Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, kon Trent vir drie ure nie opgespoor word nie en is daar laat gisteraand eers verneem dat sy by die Kameeldrift-polisiestasie oos van Pretoria aangehou word.

“My kollega Louis Taljaard werk sedertdien onverpoosd om borgtog gereël te kry, aangesien die SAPD dié taak bemoeilik. Verder kon nog geen arrestasielasbrief aan hom gewys word nie,” sê Spies.

Spies sê voorts dat die polisie Trent se arrestasie aan die media ontken.

“Intussen word sy steeds by die Kameeldrift-polisiestasie aangehou. As sy nie gearresteer is nie, is sy ontvoer. Dis óf die een óf die ander.”

Soortgelyke plasings