--> -->
Spyskaart +

SAPD Margate weier om aanrandingsaak oop te maak – AfriForum

Mei 4, 2015 deur Mariska Batt

Dudley en Michael Buys, ’n pa en seun van Margate aan die suidkus van KwaZulu-Natal, is verlede week deur hulle bure aangerand. Die SAPD Margate is gekontak en die polisiebeamptes wat op die klagte gereageer het, het geweier om ’n aanrandingsaak oop te maak ondanks die feit dat die twee mans aansienlik erg beseer was en in die hospitaal opgeneem moes word.

“Morne Kruger, ’n lid van ons Ramsgate-buurtwag, het die SAPD-lede gekonfronteer oor hulle weiering om ’n aanrandingsaak oop te maak. Die SAPD-lid het gesê dat die polisie nie sake op grond van hoorsêgetuienis oopmaak nie,” sê Wessel Pretorius, die voorsitter van die plaaslike AfriForum-tak in Margate.

AfriForum is ook betroubaar deur ’n beampte van die SAPD Margate in kennis gestel dat die lede wat op die klagte gereageer het, nie eers ’n inskrywing in die voorvalleboek (VB) by die Margate-kantoor gemaak het nie.

Chris Fourie, die provinsiale koördineerder vir AfriForum in KwaZulu-Natal, sê dat AfriForum kontak gemaak het met brigadier Morris Moodley, die SAPD se klusterbevelvoerder, en het versoek dat hy aan die saak aandag moet skenk. Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat ’n lid van die SAPD weier om ’n aanrandingsaak oop te maak wanneer hulle duidelik kan sien dat die twee mans aangerand is.

Kaptein Marnus Erasmus, bevelvoerder by die Margate-speurtak, het bevestig dat sy kantoor AfriForum se klag ondersoek.