SANW laat land sonder grense; gemeenskappe moet self beveilig

AfriForum meen die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se erkenning dat die weermag so te sê tot niet is, laat die land sonder grense en dus sonder enige beskerming wat eksterne bedreigings betref.

Dít volg nadat Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, en genl. Solly Shoke, hoof van die SANW, vandeesweek in hul begrotingsrede in die parlement ruiterlik erken het dat die SANW ten gronde gaan. Dít kort nadat genl. Khehla John Sithole, nasionale polisiekommissaris, en Bheki Cele, minister van polisie, ook onlangs aangedui het dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nie in staat is om te doen wat van hulle verwag word nie en nie aan hul grondwetlike plig kan voldoen nie.

Dié erkennings deur die hoofde van die onderskeie instellings, wat bemoei is met die beskerming van die burgers en die territoriale gebied van Suid-Afrika, laat ’n wrange smaak en het groot kommer tot gevolg. Die verdere stelling deur Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, dat weermaggrond vir grondhervormings­doeleindes aangewend sal word, dui duidelik daarop dat die regering nie begerig is om die SANW uit sy benarde posisie te red nie.

Die onsuksesvolle implementering van transformasie, gebrek aan dissipline, ondeursigtige aanwending van fondse, gebrek aan instandhouding en wanadministrasie is onder meer die kwelpunte wat die SANW op sy knieë gebring het.

“Die onvermoë van die leierskader om die weermag met toewyding te lei, is vervang deur die strewe daarna om hulself met topposisies te beloon,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Om alles te kroon, is die beleërde SAPD deur die nasionale tesourie versoek om hul begroting met byna R6 miljard te besnoei.

Gemeenskappe word toenemend met die werklikheid gekonfronteer dat hul verantwoordelikheid vir hul weerbaarheid en veiligheid in hul eie hande lê.

“Die SANW gaan nie net in die Suider-Afrikaanse streek hul huidige reputasie onherroeplik skade aandoen deur die openbaarmaking van die minister nie, maar gaan aan die burgers van die land toon dat hulle geen wil het om op te tree ter beskerming en verdediging van alle inwoners soos wat die Grondwet vereis nie.

“Die ineenstorting van hierdie kernstaatsfunksies vereis van gemeenskappe om hul eie vermoë met gemeenskapsveiligheidstrukture op te skerp,” sê Cameron.

Soortgelyke plasings