|

Sanral: AfriForum sal eerste gedagvaardigde lid help

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

AfriForum is van voorneme om die eerste lid wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) gedagvaar word vir uitstaande E-tolskuld met regshulp by te staan.

Só het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van dié burgerregte-organisasie, gesê na afloop van Sanral se aankondiging dat balju’s in verskeie Gautengse gebiede opdrag gegee is om siviele dagvaardings uit te reik vir uitstaande e-tolskuld.

Luidens ʼn verklaring wat op 21 Maart 2016 deur Sanral uitgereik is, sluit dit ook groter eise waaronder skuld van maatskappye. “Weens die bedrae van dié eise, moet dit deur die hooggeregshof hanteer word,” het Alex van Niekerk, projekbestuurder van die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP), in die verklaring genoem.

Sanral het verder gesê dat hulle ook met ’n skuldinvorderingsproses teen herhaalde oortreders gaan begin. Die verklaring beklemtoon verder dat die Electronic Toll Collection (ETC), die maatskappy wat die e-tolstelsel namens Sanral administreer, padgebruikers deurlopend gewaarsku het dat hulle hul e-tolgeld moet betaal om vervolging te voorkom. In November 2015 het Sanral aangekondig dat padgebruikers by die betaling van hul uitstaande rekeninge 60%-afslag sal ontvang.

“Sanral het ’n verantwoordelikheid teenoor die land en die duisende voertuigeienaars wat gereeld hul e-tol betaal, om die skuld van nie-betalers in te vorder,” het Van Niekerk gesê.

Sanral het ook daarop gewys dat ’n siviele dagvaarding nie met strafregtelike vervolging verwar moet word nie.

AfriForum het op 4 Januarie vanjaar sy steun by verskeie organisasies soos die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Opposition to Urban Tolling Alliance of OUTA) gevoeg teen die voorgestelde wysigings aan wetgewing oor e-tol, wat op 7 Desember 2015 in die Staatskoerant gepubliseer is. Die kennisgewing in die Staatskoerant het aangevoer dat persone wat nie tolgeld betaal nie, verkeerswetgewing oortree. Luidens mediaberigte is sowat 100 000 besware deur lede van die publiek ingedien.

Wayne Duvenhage, voorsitter van Outa, het aan Forum Nuus gesê dat Sanral deur hierdie proses vrees in motoriste wil injaag en hoop om van enkele individue en maatskappye voorbeelde te maak.

Duvenhage sê dat maatskappye en mense wat e-tolkontrakte in die verlede onderteken het en dit nie meer betaal nie, veral die risiko loop om gedagvaar te word.

“Motoriste kan egter nie die dagvaarding ignoreer nie, en sal in die hof moet opstaan vir hul regte.”

 

Soortgelyke plasings