|

Samewerkingsooreenkoms tussen SAPD en AfriForum werp reeds vrugte af

Slegs twee weke nadat AfriForum en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ʼn geskiedkundige samewerkingsooreenkoms onderteken het, is twee suksesvolle arrestasies gister deur AfriForum-buurtwagte en plaaslike polisie gedoen.

Dié twee voorvalle het onderskeidelik in Kempton Park en Vanderbijlpark plaasgevind.

Die AfriForum-buurtwag in Vanderbijlpark het Donderdag in samewerking met die Barrage- polisiestasie en ʼn plaaslike sekuriteitsmaatskappy ʼn moordverdagte gearresteer wat vermoedelik verantwoordelik was vir die dood van een van sy vriende.

Dít volg nadat Corné Cronje, voorsitter van die AfriForum-buurtwag in Vanderbijlpark, deur ʼn klaagster van die moord in kennis gestel is. Die inligting is dadelik met die plaaslike polisie opgevolg en ʼn blitspatrollie is in samewerking met die AfriForum-buurtwag ontbied om die inligting op te volg.

Die verdagte is omstreeks 05:30 naby ʼn plaaslike kinderspeelterrein vasgetrek.

Luidens mediaberigte het die verdagte sy vriend op 31 Januarie met ʼn mes doodgesteek nadat ʼn argument tussen die twee ontstaan het. Die verdagte het na bewering met die lyk in sy motor rondgery, waarna hy dit in ʼn vlak graf in Vaalpark begrawe het. Beide die verdagte en slagoffer was klaarblyklik uit op borg.

Die AfriForum-buurtwag in Kempton Park het ook gisteraand ʼn gekaapte voertuig tot in Tembisa agternagesit en daar opgespoor.

Volgens Wico Swanepoel, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng, het die buurtwag ʼn oproep ontvang dat ʼn motorvoertuig in Bamboostraat gekaap is.

Die voertuig het in die rigting van Tembisa beweeg en kon deurentyd gevolg word deur middel van die sein van ʼn selfoon in die voertuig. Die polisie in Kempton Park het die buurtwag aanvanklik gehelp waarna die polisie in Tembisa en die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) ontbied is om die buurtwag verder by te staan tot waar die gekaapte voertuig gevind is.

Volgens Swanepoel het proaktiewe optrede tot die suksesvolle arrestasies gelei. “Dit is reeds duidelik dat samewerking met die polisie vrugte begin afwerp. Dit wys dat ʼn daadwerklike verskil gemaak kan word deur aktief betrokke te raak by gemeenskapsveiligheid,” meen hy.

“Ons wil almal bedank wat bygedra het tot die suksesvolle arrestasies.”

Jan Vermaak, voorsitter van die AfriForum-buurtwag in Kempton Park, het aan Forum Nuus gesê dat hy ook baie trots is op wat die buurtwag vermag het, asook die wyse waarop die SAPD en EMPD die buurtwagte bygestaan het.

Hy meen samewerking met die polisie en ander rolspelers in gemeenskapsveiligheid kan net verdere suksesse oplewer.

Soortgelyke plasings