Samewerking tussen AfriForum-buurtwagte en SAPD werp vrugte af


Twee suksesvolle arrestasies is die afgelope 24 uur deur AfriForum-buurtwagte in samewerking met die SAPD uitgevoer. Die voorvalle het onderskeidelik in  Kempton Park en Vanderbijlpark plaasgevind.
Die AfriForum-buurtwag in Kempton Park het ’n gekaapte voertuig tot in Tembisa agternagesit en daar opgespoor.
Dié buurtwag het gisteraand ’n oproep ontvang dat ’n Kia Rio in Bamboostraat gekaap is. Die voertuig het in die rigting van Tembisa beweeg en kon deurentyd gevolg word deur middel van die sein van ’n selfoon in die voertuig. Kempton Park se SAPD het die buurtwag aanvanklik gehelp waarna die Tembisa-SAPD en die Ekurhuleni Metropolisie (EMPD) ontbied is om die buurtwag verder by te staan tot waar die gekaapte voertuig gevind is.

“Ek is baie trots op wat die buurtwag vermag het, asook die manier waarop die SAPD en die EMPD ons bygestaan het. Samewerking met die polisie en ander rolspelers kan net verdere suksesse oplewer,” sê Jan Vermaak, voorsitter van die AfriForum-buurtwag in Kempton Park.

Die AfriForum-buurtwag in Vanderbijlpark het ook ’n reusedeurbraak gemaak deur ’n moordverdagte plat te trek. Dít volg nadat die voorsitter van die plaaslike  buurtwag, Corné Cronjé, inligting ontvang het dat ’n moord gepleeg is. Die inligting is onmiddellik opgevolg en die SAPD het ’n blitspatrollie ontbied om die verdagte se spoor in samewerking met die plaaslike buurtwag te volg. Die verdagte is uiteindelik in Rivierweg gearresteer.

“Dit is reeds duidelik dat samewerking met die SAPD vrugte afwerp. Proaktiewe optrede het gelei tot suksesvolle arrestasies en dit wys dat die gemeenskap ’n daadwerklike verskil kan maak deur aktief betrokke te raak,” sê Wico Swanepoel, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Suid.
“Ons wil almal bedank wat tot die suksesvolle arrestasies bygedra het,” sluit Swanepoel af.

Raak betrokke by jou plaaslike AfriForum-buurtwag. Jy kan help om jou omgewing te beveilig: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings