| |

Samewerking lei tot inhegtenisname van gewapende rowers in Vredendal

Drie verdagtes is op 17 Maart 2020 in hegtenis geneem danksy goeie samewerking tussen AfriForum se Nuwerus- en Kleinrivier-plaaswag, asook die organisasie se Lutzville-plaaswag en -buurtwag én die SAPD. Dít volg ná vyf verdagtes die MTN-winkel by die Maskam-winkelsentrum in Vredendal omstreeks 10:30 beroof en die werknemers en klante met vuurwapens aangehou het.

Besonderhede oor die voertuig waarin die verdagtes gevlug het is intyds tussen alle rolspelers gedeel. AfriForum se veiligheidstrukture is geaktiveer om op die uitkyk te wees daarvoor en het die polisie oor die voertuig se ligging in kennis gestel. Drie van die verdagtes is uiteindelik aangekeer en in hegtenis geneem. Daar is ook beslag gelê op die voertuig. ’n Saak van sakeroof is teen die verdagtes aanhangig gemaak.

“Sonder hierdie samewerking sou ons nie die verdagtes kon vang nie. Ons is bly ons kon die SAPD bystaan om hierdie sukses te behaal. Voornemende kriminele moet besef ons as ’n gemeenskap is bereid om teen misdaad terug te veg,” sê Wilco Engelbrecht, AfriForum se veiligheidsvoorsitter vir die Matzikama-tak.

 Raak vandag nog by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Veilig” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings