|

Sakeregtewaghond betree nuwe fase

Die sakeregtewaghond AfriSake het vandag ’n nuwe fase betree én ’n nuwe baadjie aangetrek. Die waghond sal voortaan as Sakeliga bekend staan.

Nick Vlok, bekende sakeman en voorsitter van Sakeliga, het ’n terugblik gegee op wat AfriSake bereik het sedert die organisasie in 2011 gestig is.

Belangrike mylpale is in samewerking met AfriForum, Helpende Hand en Solidariteit bereik. Verskeie belangrike sakelui, soos dr. Steve Booysen, voorheen van ABSA, was nou betrokke by die stigting van AfriSake wat ten doel gehad het om aksies teen te staan wat teen die Grondwet gemik was. Die visie en missie in die beginjare was die beskerming van ’n vrye mark, die handhawing van Grondwetlike beginsels en die beskerming van eiendomsreg.

AfriSake het belangrike hofsake begin wat grondeise teengestaan, die belastingbetaler geld gespaar het en gesorg het dat Eskom nie krag aan klein dorpies afsny nie.

Sakeliga gaan al die belangrike werk voortsit, maar ook fokus om die breër sakegemeenskap te betrek en om beter voordele vir sy lede te beding.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê met die nuwe handelsmerk gaan die organisasie veral fokus om ’n meer gekoördineerde sake-omgewing te skep. Kapitaal gaan gemobiliseer word om politieke risiko’s uit te skakel om sodoende ’n gunstige sake-omgewing te skep waar daar ook van staatafhanklikheid na selfstandige sakegemeenskappe beweeg kan word. Daar is veral drie belangrike oogmerke naamlik:

  1. Om lede/sakelui bestand te maak teen staatsinmenging;
  2. Om lede/sakelui te bemagtig en in staat te stel om met die regering te kan beding; en
  3. Om te verseker dat waar die regering nie die vermoë het nie, sakelui selfregulering kan toepas.

Die nuwe logo beeld geld (’n muntstuk), die drie pilare van standvastigheid en die voorletter van die nuwe naam, naamlik Sakeliga, uit.

Soortgelyke plasings