|

Saggeaarde vermoorde boer van Tonteldoos se hofsaak begin

Deur Mariska Batt

’n Ware gentleman.

Dít is hoe Claudine van Wyk haar pa, Sarel Janse van Rensburg, onthou.

Janse van Rensburg, ʼn boer en wewenaar, is op 18 September 2014 op die plaas Froggy Pond naby Tonteldoos, sowat 25 km van Dullstroom vermoor, kort voordat hy sy 76 ste verjaardag sou vier.

Vandeesweek sit Van Wyk saam met ander geliefdes in die Middelburg-landdroshof waar die twee mans, Papiki Mokwena en Eric Mtombeni, vir die moord op Janse van Rensburg teregstaan.

Janse van Rensburg, wat deur kennisse en vriende as Sarel “Mooimens” gedoop is vanweë sy geaardheid, is omstreeks 11:00 die oggend van 18 September verlede jaar oorval toe hy vir die beskuldigdes, wat by hom vir werk kom aanklop het, water in sy huis gaan haal het. Hy is gemartel en toe vermoor.

“Toe ek destyds op my pa afgekom het, was ek histeries. Ek het dit heeltemal verloor. Ek kon nie verstaan waarom my pa, wat soveel liefde aan ander betoon het, so wreedaardig vermoor kon word nie. My pa was ʼn bemiddelaar en almal was lief vir hom. Hy was die hart van Tonteldoos,” sê Van Wyk.

Sy sê sy hoop dat geregtigheid nou sal geskied, al sal dit nie haar pa terugbring nie.

“Ek sal altyd dankbaar wees vir die boere in die omgewing. Kort nadat my pa vermoor is het almal saamgestaan en saamgewerk om die skuldiges vas te trek. Ek is ook dankbaar vir die werk wat AfriForum vir boere doen.”

Boere, plaaswerkers en polisielede wat vinnig op die toneel was, het gesorg vir die inhegtenisneming van Mokwena en Mtombeni kort nadat die moord gepleeg is.

Van Wyk sê dat sy nie vandag met haat in haar hart sit nie, maar steeds stomgelaat is oor die wreedaardigheid van die moordenaars.

Lorraine Claasen, navorser en kriminoloog by AfriForum, woon die hofverrigtinge by om ondersteuning aan die familie te verleen. Janse van Rensburg se saak vorm deel van ʼn studie oor plaasmoorde waaroor Claasen die afgelope jaar navorsing vir die burgerregte-organisasie doen.

“Families wat agterbly na ʼn moord op ʼn geliefde stap ʼn moeilike pad. Hofverrigtinge is nie net belangrik vir geregtigheid om te geskied nie, maar ook vir families om berusting te kry,” meen Claasen.

Die saak duur voort.

Soortgelyke plasings