|

SA regering verantwoordelik vir opstande op kampusse

Verskeie universiteite is vandag steeds gesluit weens volgehoue druk en dreigemente van betogende studente om universiteitskampusse onregeerbaar te maak indien hul nie gratis gehalte-onderrig kry nie.

Tydens dié oproer het betogers universiteite in Gauteng, die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Vrystaat tot stilstand gebring nadat dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, Maandag aangekondig het dat universiteite self moet besluit oor klasgeldverhogings vir 2017.

Nzimande het gesê die outoriteit om oor studiegelde te besluit, lê nie by die regering nie, maar by universiteitsrade. Sy aanbeveling is dat universiteite dit nie met meer as 8% verhoog nie.

Politici en akademici het sedert die gewelddadige betogings uiteenlopende uitsprake gemaak oor hoe die krisis ontlont moet word.

Gwede Mantashe, ANC-sekretaris-generaal, het voorgestel dat kampusse vir ses maande gesluit word en koshuise vir ’n verdere ses maande. Hy meen dit sal studente tot ander insigte bring oor hoe belangrik hoëronderwys vir hul toekoms is.

Dr. Max Price, visekanselier van die Universiteit van Kaapstad (UK), het ’n optog, waaraan personeel en studente deelgeneem het, na die parlement gelei om te eis dat die regering ’n omvattende oplossing vir die finansiering van hoër onderwys vind.

Prof. Jonathan Jansen, voormalige rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV), het op sosiale media geskryf die beste manier om die betogings te beëindig, is dat ander studente én hul ouers moet opstaan en terug baklei.

Dr. Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), het aan Forum Nuus gesê dat die regering die hoofrede is vir die onluste wat op kampus onstaan het.

Hy is ook van mening dat meer geld beskikbaar sou wees vir die subsidiëring van studente as die staat se finansiële prioriteite beter was. Oor die krisis rondom die nasionale studente finansieringshulpskema (Nsfas) het Cronjé gesê daar moet op ’n belastingsvlak gekyk word hoe studente aanspreeklik gehou kan word om die lenings terug te betaal.

“Daar het die afgelope twee jaar niks sinvol uit Blade Nzimande se mond oor studiegelde gekom nie. Die staat is die oorsaak van die krisis op kampusse. Hulle het ingemeng en leë beloftes gemaak. Nou kies hulle om die blaam en verantwoordelikheid op universiteite se skouers te plaas.”

Hy het voorts gesê betogende studente gebruik klasgelde as ʼn rookskerm om ander politieke doelwitte te bevorder. “Die oplossing vir stakings op kampusse is nie meer staatsubsidie nie, maar stenger en harder optrede teen gewelddadige studente.”

Cronjé stem nie saam met optrede soos deur Price nie en meen dit dra net by tot verdere onluste. “Strenger wet en orde is wat nou nodig is om kampusse reg te ruk.”

Nog ʼn kenner het instellings wat optree asof dit “oorgegee” het skerp gekritiseer omdat hulle toelaat dat studente gewelddadige betogings hou vir ’n sogenaamde reg op gratis onderrig. Dit terwyl die regte van die instellings se werkers, akademici én nie-betogende studente in die proses geskend word. Hy meen universiteitsbesture moet nie net ʼn beroep op betogers doen om ander se regte te respekteer nie, maar daadwerklik optree om te dit te verseker.

Hy het ook die belangrikheid van studenteraadverkiesings beklemtoon en gesê dit moet plaasvind sodat studenteleiers gekies kan word wat hulle nie in wetteloosheid verlustig nie.

Die burgerregte-organisasie AfriForum se jeugvleuel is ook van mening dat universiteite hul deure moet oopmaak en studente wat moeilikheid veroorsaak vasvat.

AfriForum Jeug het gister ’n petisie – Universiteitsbesture, laat ons studente in vrede studeer! – van stapel gestuur om die regte van betalende studente wat werklik wil studeer, te beskerm en bevorder.

Volgens Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale woordvoerder, sal die geweld en ontwrigting op kampusse ophou wanneer moeilikheidmakers vasgevat en vervolg word.

“Daar is geen rede dat alle studente gestraf moet word as gevolg van ’n radikale minderheidsgroep se optredes nie. Studente se reg om te studeer moet gerespekteer word.”

Soortgelyke plasings