SA Kaapse Korps Militêre Veteranevereniging nou amptelik as veteranegroep erken ná AfriForum ingryp

 

Die Suid-Afrikaanse Kaapse Korps Militêre Veteranevereniging (SAKKMVV), wat sedert sy stigting in 2015 sonder sukses gepoog het om as ’n amptelike veteranegroep deur die departement van militêre veterane erken te word, het nou met AfriForum se hulp uiteindelik daarin geslaag om amptelike erkenning te ontvang.
Die SAKKMVV se uitvoerende komitee het AfriForum in Oktober 2017 om hulp genader nadat die departement van militêre veterane gesloer het met die veteranegroep se aansoek om erkenning. Ná ’n verdere gesloer het AfriForum se regspan die departement op terme geplaas en in reaksie hierop het Derrick Mgwebi, waarnemende direkteur-generaal van dié departement, ’n dag voor die sperdatum wat AfriForum aan hulle gestel het skriftelik aangedui dat die SAKKMVV nou wel amptelik erken word.
Die SAKKMVV is ’n militêre veterane-organisasie wat uit voormalige lede van die Suid-Afrikaanse Kaapse Korps (SAKK) bestaan. Die SAKK is saamgestel uit bruin/Khoisan-soldate wat vanaf 1966 tot 1989 deel van die destydse Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) was en tydens die Suid-Afrikaanse Grensoorlog ontplooi is.

Luke Plaatjies, president van die SAKKMVV, het sy dank teenoor AfriForum uitgespreek vir die rol wat die burgerregte-organisasie gespeel het om te verseker dat SAKK-soldate nou uiteindelik erkenning ontvang as militêre veterane. Volgens Plaatjies is dit ’n skande dat die meeste SAKK-soldate sedert dié eenheid se ontbinding in 1992 nie in die destydse Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) geïntegreer is en hulp ontvang het om weer opgelei te word of alternatiewe werk te kry nie. Plaatjies het daarop gewys dat hierdie voormalige lede van die weermag geen staatsondersteuning ná hul diens ontvang het nie ten spyte van die feit dat ander groepe soos uMkhonto we Sizwe dit wel ontvang het. “Die amptelike erkenning van die SAKKMVV bied nou ’n stewige basis vanwaar die organisasie voortaan kan veg vir die belange van ons lede wat tot dusver uitgesluit is.”

Daniël Eloff, AfriForum se regsverteenwoordiger, het die departement van militêre veterane se besluit om die SAKKMVV amptelik te erken, verwelkom.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die feit dat bruin soldate van die SAKK afgeskeep is en nie dieselfde voordele as ander groepe soos uMkhonto we Sizwe ontvang het nie, ’n simptoom van die groter probleem, naamlik dat lede van die bruin gemeenskap vandag steeds benadeel word. “Die SAKK-soldate verdien erkenning vir die groot rol wat hulle in die geskiedenis gespeel het en daarom het AfriForum, as burgerregte-organisasie wat geregtigheid nastreef, onmiddellik ingestem om die SAKKMVV te help toe hulle ons genader het.”

Soortgelyke plasings