--> -->
Spyskaart +

SA belasting ‘n nuwe wêreldrekord!

Februarie 27, 2018 deur Flip Buys

This treasury paper, by its very length, defends itself against the risk of being read.”- Winston Churchill.

Nou ja, Churchill se woorde is my verklaring vir soveel kinderlik opgewonde reaksies op die begroting van Minister Gigaba, deur mense wat hom nog ‘n week terug wou ophang agv onbevoegdheid en Zupta-bande. Maar namate ernstige ekonome soos Dawie Roodt die begroting deeglik bestudeer, kom ‘n ander prentjie na vore. Hier volg my eie tong in die kies nie-ekonomiese kommentaar op die begroting, met ‘n paar vereenvoudigings en veralgemenings daarby. Lees maar wat mense soos Dawie, Prof Jannie Rossouw, Mike Shcussler en ander ekonome soos Piet le Roux van Afrisake sê om die ware prentjie te kry. My opsomming is eerder ‘n lag met ‘n traan as ‘n ernstige ontleding.

SA is nou die Nommer 1 belastingland ter wêreld! Dis nou die erfenis van die ‘ware Jacob’- ons eie Nommer 1 en sy span ‘mini-eens’ se jarelange toegewyde ekonomiese wanbestuur. Ek tel dat hulle sommer 12 Wêreldrekords gebreek het!

  1. SA is nou die Nr1 as land met die hoogste netto-belastingkoers.
  2. Hierdie belastingbetalers kry die minste waarde oppie aarde vir hul belastingrand.
  3. Die opbrengs op die belastinggeld is die laagste agv swak Staatsdienste.
  4. Dis die minste belastingbetalers wat vir die meeste belastingontvangers sorg.
  5. Die Nr 1 verhouding tussen mense wat stem vir ‘n lewe vs wat werk vir ‘n lewe.
  6. Hierdie betalers het die minste inspraak oor die spandering van hul geld.
  7. Politici kom aan bewind met beloftes waarvoor die betalers moet opdok.
  8. Die belastingontvangers stem vir hulself al meer geld van die betalers.
  9. Nog nooit het só min betalers só baie kritiek gekry oor hul betreklike finansiële sukses nie.
  10. SA is Nr 1 in die aantal wetlike beperkings op hul waardeskeppers.
  11. Die meeste straflose plundering van belasting, met die swakste toesig daaroor.
  12. Betalers werk langer per jaar om die Staat te onderhou as hul eie gesinne.

Kom ons hoop President Ramaphosa se nuwe besef vee skoon, dat hy die plunderaars straf en korrupsie uitroei, dat die staatsdiens ‘n beter diens sal begin lewer, en dat die ekonomie sal groei. My kommer bly egter dat hierdie begroting uit die kenmerkend linkse siening van staatsfinansies spruit, en dat die nuwe President- wel eerlik en bekwaam, net op dieselfde bestedingspad gaan bly.