| |

Rookverbod: AfriForum beteken prokureursbrief op Dlamini-Zuma

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n prokureursbrief laat beteken op die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, waarin die Minister in kennis gestel word dat die organisasie verdere regstappe sal doen indien die rookverbod nie opgehef word nie. Dié verbod verwys na die verkoop van tabakprodukte wat tans onwettig is. Die brief is ook op die Minister van Gesondheid, dr. Zweli Mkhize beteken.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê dat daar geen rasionele grondslag vir die rookverbod bestaan nie en dat die geheimsinnigheid van die regering in dié opsig op ’n skending van die publiek se burgerregte neerkom. Roets spreek ook sy kommer uit oor gerugte dat Dlamini-Zuma vriende in die onderwêreld het wat onwettig met sigarette smokkel.

“AfriForum veg nie vir rook nie;  ons veg vir vryheid: vryheid vir die gemeenskap om nie aan verregaande voorskrifte onderwerp te word nie,” sê Roets.

In die prokureursbrief versoek AfriForum dat die rookverbod opgehef word. Indien die Minister nie teen 3 Junie 2020 voldoende op AfriForum se prokureursbrief antwoord nie, sal verdere regstappe oorweeg word.

Soortgelyke plasings