Rooiwal-rioolwerke: Skikking ’n bevel van die hof gemaak


Die Tshwane-metro het ná ’n drie jaar lange hofgeding geen ander keuse gehad as om ’n skikkingsooreenkoms met AfriForum te bereik oor onderhoud en herstelwerk by die Rooiwal-rioolwerke nie. Die metroraad moet ook die regskoste van dié geding dra, terwyl die hofbevel ’n instandhoudingskedule insluit waarvolgens die onderhoud en herstelwerk by die Rooiwal-rioolwerke moet geskied gekoppel aan spesifieke datums.
Die agteruitgang van die Rooiwal-rioolwerke is deur AfriForum-lede onder die metroraad se aandag gebring, waarna die burgerregte-organisasie ’n dringende hofaansoek in Oktober 2016 geloods het. Die metro het beloof om die vordering met betrekking tot die onderhoud en herstelwerk van die rioolwerke aan die hof te rapporteer, maar het versuim om dit te doen. AfriForum moes daarom die aansoek wéér op die rol plaas sodat die bevel finaal gemaak kon word.

“AfriForum is dankbaar vir die inligting wat ons van ons lid, Theunis Vogel, ontvang het gedurende die afgelope jare.
“Dit is uiters dringend dat die Rooiwal-rioolwerke so gou as moontlik herstel word. Die tempo waarteen besoedeling plaasvind is besig om rampspoedige proporsies aan te neem. Die besoedelde rivier vloei onder meer in die Krokodilrivier, wat die omvangrykheid van die probleem illustreer,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Gemeenskappe langs die Apiesrivier behoort binne die volgende drie maande verligting te ervaar indien die metro die hofbevel eerbiedig. Sou die metro egter nie die bevel nakom nie, staar hulle minagting van ’n hofbevel in die gesig wat óf ’n boete óf strafregtelike stappe tot gevolg kan hê.

Soortgelyke plasings