|

Roerende gedigte vervat in nuwe Stemme uit die Suiderland XIII

Suid-Afrika het nie ’n tekort aan digters in Afrikaans nie.

Só getuig die werk van talle nuwe en gesoute talent wat in die jongste uitgawe van Stemme uit die Suiderland XIII vervat is.

Stemme uit die Suiderland word deur die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) uitgegee en is deur Solidariteit ondersteun.

Vanjaar se algehele wenner is Carma Shaw en die naaswenner Karen Nel.

Shaw en haar gesin woon sedert 1991 in Brackenfell. Sy bedryf die afgelope 17 jaar haar eie kwekery in die dorp. Sy geniet die buitelewe en reis graag. Sy het in 2012 gedigte begin skryf en ontdek dat sy dit baie geniet.

Ander digters het hul slag gewys in afdelings soos Erwe van ons vad’re, Voortrekkermonument, humor, tegnologie, mymeringe en geestelik.

Die bundel kos R200 en kan bestel word by gha@afrikaans.org.za

 

Hier is een van die gedigte deur Theron Wessels:

Volkskultuur

 

Weet jy hoe om rieme te brei?

Het jy al rieme dun gesny?

Ken jy die kuns van sweep vleg?

Kan jy ’n sweep klap?

 

Weet jy wat dit is om ’n dorsvloer te trap?

Weet jy van koring uitwin en in ’n blok koring stamp?

Het jy al gesien as hulle koeëls giet?

Kan jy van ’n perd se rug af skiet?

 

Het jy al skaap of bok opgepas?

Het jy al ontslae geraak van die jakkalslas?

Het jy al afval gekrap en skaapkop geëet?

Het jy al kaiings uitgebraai as deel van jou diëet?

 

Dit is deel van ons kultuur my vriend

Vir verre voorgeslagte was dit verdiend

Verre voorgeslagte het geveg en gely

Laat hul vindingryke kennis en kuns vir ons kinders erwe bly

Soortgelyke plasings