|

Rioolkrisis tref Belfast

Die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit stort al vir langer as ʼn week rou riool in ʼn vleiland en rivierstroom aangrensend tot Belfast. Hierdie storting word toegeskryf aan die feit dat albei pompe in een van die dorp se pompstasies tans buitewerking is.

AfriForum het na ʼn besoek aan die pompstasie vasgestel dat die primêre rioolpomp asook die sekondêre rioolpomp verwyder is. Ná inspeksie het Hein Gonzales, AfriForum se provinsiale koördineerder in Mpumalanga, besoek by die munisipale kantore afgelê om die situasie met die munisipale bestuurder, E.K. Tshabalala, te bespreek.

“Tshabalala het bevestig dat sy deeglik bewus is van die rioolstorting, maar dat sy weens die gebrek aan finansies nie in ʼn posisie is om die rioolpompe onmiddellik te herstel nie,” het Gonzales gesê.

Na afloop van die vergadering met me. Tshabalala, het AfriForum Mpumalanga se direkteur van waterondersteuning belas met besoedelingsbeheer, Mandisa Matiso, asook die departement van water en sanitasie (DWS) op terme geplaas om teen Vrydag, 17 Julie 2015 ʼn werkbare plan op die tafel te sit oor hoe die probleem opgelos gaan word. Die DWS sal onmiddellik moet oorgaan tot aksie indien daar nie ʼn herhaling van die Bloemhof-tragedie in 2014, waar verskeie kinders weens rioolbesoedeling gesterf het, wil wees nie, meen Gonzales.

’n Inwoner van Belfast, wat verkies om anoniem te bly, sê dat hulle bekommerd is oor die agteruitgang van die dorp. “Die munisipaliteit steel ons geld en vermors dit. Hulle ry mooi, duur karre terwyl die dorp uitmekaar val omdat daar geen instandhouding is nie. Die water stink. Ons gebruik dit maar om in te bad of wasgoed te was, maar moet water koop om te drink en mee kos te maak. Dit raak duur. Buiten die water- en rioolprobleme val ons paaie ook uitmekaar en neem elektrisiteitsprobleme toe. As ons die dorp maar net weer kan kry soos hy in die verlede was, sal alles beter gaan.”

Dewald de Klerk, ’n restaurantbestuurder op die dorp, sê dat hulle self verantwoordelikheid vat vir die suiwering van hulle water en dit vanuit ʼn reservoir op die perseel pomp. “Ons maak glad nie staat op die water wat direk deur die munisipaliteit voorsien word nie. Ons sukkel geweldig met watervoorsieningsprobleme en is bewus van die rioolstorting in die vleiland, wat kommerwekkend is.”

Gonzales sê dit wil voorkom of rioolstortingskrisisse in Mpumalanga toeneem en in die meeste gevalle is dit ʼn gevolg van die munisipaliteit se swak instandhoudingswerk en gebreke in infrastruktuur. Munisipaliteite se reaksie op hierdie krisisse is bloot dat daar nie geld is vir herstelwerk of onderhoud nie. Die munisipaliteit is tans ook diep in die skuld by die elektrisiteitsreus Eskom met ʼn agterstallige bedrag van R1,4 miljoen.

“Ons sal diegene wat vir die rioolstorting verantwoordelik is van strafbare manslag aankla indien daar enige sterftes is weens rioolbesoedeling,” sê Gonzales.

AfriForum se regspan is gereed om voort te gaan met ʼn dringende hofaansoek in die hooggeregshof indien die DWS nie die nodige stappe neem nie.

Soortgelyke plasings