Rioolkrisis in Klerksdorp/Orkney: Munisipaliteit reageer op AfriForum se klagtes


Die City of Matlosana Plaaslike Munisipaliteit het op 21 November 2017 skriftelik op klagtes van AfriForum se Klerksdorp-tak rakende ernstige rioollekke in Klerksdorp en Orkney gereageer en onder meer gesê dat daar ’n vergadering belê sal word soos deur die burgerregtewaghond versoek.

“Dit is welbekend dat inwoners van Klerksdorp en Orkney daagliks met rioollekke en die gevolge daarvan sukkel, wat AfriForum genoop het om die munisipaliteit skriftelik te versoek om dringend in te tree,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Sentraalstreek.

AfriForum het voorts nóg ’n skrywe aan dié munisipaliteit gerig rakende die ontwikkeling van die Matlosana Gardens-woonsteleenhede, wat op dieselfde problematiese rioolnetwerk (Flamwood en Adamayview) moet funksioneer, wat nie die addisionele druk sal kan hanteer nie. Volgens Nel sukkel die omliggende woonbuurte en -komplekse reeds erg met dié probleem.

“Oor die algehele rioolkrisis het die munisipaliteit in hul skrywe gesê dat die herstelwerk uitgekontrakteer gaan word en ’n advertensie reeds op 22 September 2017 in die Klerksdorp Rekord verskyn het. Dit is egter kommerwekkend dat die plaaslike én distriksmunisipaliteit nie self oor die vermoë beskik om dié soort probleme op te los nie.

Dit hou ernstige gesondheidsrisiko’s vir alle inwoners, diere en die omgewing in – nou sloer dit verder weens tenderprosesse omdat die munisipaliteit die werk uitkontrakteer,” sê Nel.
Die munisipaliteit sê volgens Nel ook dat verskeie nasionale departemente genader is om probleme van die rioolinfrastruktuur te takel.
In reaksie op AfriForum se skrywe oor Matlosana Gardens voer die munisipaliteit aan dat ’n 320 kg sak en stene, wat hoofsaaklik vir blokkasies in die rioolstelsel verantwoordelik was, op 16 November verwyder is en dat hulle tevrede is met die huidige stand van sake en die situasie moniteer.
Alvorens AfriForum met die munisipaliteit vergader, het die organisasie die volgende versoek (wat nog verskaf moet word):

  • Bewyse dat daar toestemming is om met die bou van 480 eenhede voort te gaan.
  • Okkupasiesertifikate
  • Waterlisensies wat toegeken is.
  • Besonderhede van die omgewingsbeheerbeampte, indien daar een is.

“AfriForum meen ’n vergadering sal slegs produktief wees indien hierdie inligting vooraf bekend gemaak word,” sê Nel.

Soortgelyke plasings