|

Reuse-staptog teen rasse-uitsluiting op 25 Oktober

Die burgerregte-organisasie AfriForum sal volgende Donderdag (25 Oktober) saam met lede van die Solidariteit Beweging aan ’n massa-optog na die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) en Sasol se hoofkantoor in Sandton deelneem.

Die optog is ter ondersteuning van Sasol-werkers se staking teen die uitsluiting van wit mense uit ’n personeelaandeleskema (Khanyisa) en teen rasse-uitsluiting in die algemeen.

Hofstukke gaan ook op Sasol beteken word sodat die rasgebaseerde skema in die hof getoets kan word. ’n Memorandum sal ook aan die JSE oorhandig word om ’n duidelike boodskap aan maatskappye te stuur dat dié soort rassediskriminasie nie aanvaarbaar is nie.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê dit is ’n kwade dag as daar hof toe gegaan moet word om uitsluitsel oor onregverdigheid te kry. “Ons vra net vir normaliteit en gelykheid. Suid-Afrika het ’n land geword waar die abnormale die norm geword het naamlik om mense op grond van hul ras uit te sluit.”

Johan Kruger, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, het gesê die vakbond se lede het eers gestaak, maar nou word ’n dispuut van regte verklaar. “In September het duisende werkers hul vervreemding tydens die staking uitgespreek. Sasol is egter eerder bereid om oor die krans te spring as om aan werkers se eise toe te gee.”

Die staking het die maatskappy ook reeds miljoene rande gekos.

Volgens Kruger glo Sasol dis billik om te diskrimineer omdat dit deur wetgewing gesanksioneer word. “Wat ons betref, is dit nuwe diskriminasie en derhalwe sal ’n dispuut vir onbillikheid na die KVBA verwys word. Ons sal ook na die arbeidshof en waarskynlik uiteindelik die Konstitusionele Hof moet gaan.”

Kruger meen Sasol is met ’n selfsugtige skema besig wat daarop gemik is om die maatskappy ewigdurende bemagtigingstatus te gee.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die burgerregte-organisasie is betrokke, omdat hierdie nie net nog ’n dispuut tussen werkgewer en werknemers is nie. “Dit gaan hier oor die hart van die samelewing waaraan ons vir die toekoms bou. Diegene wat hulle met rastellings besig hou, is besig om die waardigheid van mense aan te tas.

“Baie wit mense het gehelp om Sasol te bou en nou kry hulle ’n klap in die gesig. As ons nie optree nie, gaan dit oral voortduur. Kom ons stap saam met die werkers van Sasol om te wys dat ons dit nie aanvaar om tweedeklas burgers te wees nie.”

Hermann het gesê die nodige toestemming is vir die optog gekry. Mense wat wil saamstap, moet by https://solidariteit.co.za/sasol-optog-sandton/ registreer of ’n SMS met die woord StapSaam na 34802 stuur. ’n Konvooi motors en busse sal om 08:00 vanaf die Voortrekkermonument in Pretoria vertrek. Mense uit ander rigtings kan om 10:00 vanaf die Rosebank Union Church bymekaarkom vanwaar busse hulle na Mushroom Park in Sandton gaan neem waar die optog om 11:00 gaan begin.

Soortgelyke plasings