--> -->
Spyskaart +

Regulasies vir aanstelling van munisipale amptenare onvoldoende, sê AfriForum

April 9, 2013 deur afriministrator

AfriForum het verskeie voorstelle oor die konsepregulasies vir die aanstelling en diensvoorwaardes van senior bestuurders in munisipaliteite by die departement van samewerkende regering en tradisionele sake ingedien.

Die burgerregte-organisasie glo dat openbare deelname en insette van die gemeenskap van kritieke belang is in die proses om bestaande poste te vul en nuwe poste in munisipaliteite te skep. Munisipaliteite moet ook deur die regulasies verplig word om klagtes van misdrywe teen aansoekers aanhangig te maak wat nie bekend maak dat hulle by ander munisipaliteite weens opsetlike wangedrag afgedank is nie.

“Ons wil hê die proses moet deursigtig wees. Munisipaliteite mag nie onnodige poste skep nie en persone wat aangestel is, nadat hulle gejok het oor afdankings, moet ten volle aanspreeklik gehou word vir hierdie wanvoorstellings,” sê Ivan Herselman, AfriForum se adjunkhoof van plaaslikeregeringsake.

AfriForum beplan om meer betrokke te raak by die wetmaakproses wat op plaaslike regerings betrekking het.