|

Regter roskam SAPD se advokaat oor laksheid in vuurwapensyferaansoek

Deur Natasha Venter

AfriForum was vandag weer in die Pretoriase hooggeregshof na aanleiding van hul PAIA-aansoek in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wetno. 2 van 2000) waarin hulle versoek dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vuurwapensyfers bekend maak.

Dit is syfers oor hoeveel staatsgeregistreerde vuurwapens ingevolge die polisie se bateregister tussen 2009 en 2014 deur hulle verloor of by hulle gesteel en teruggevind is, asook dieselfde syfers ten opsigte van die sentrale vuurwapenregister.

AfriForum het uiteindelik ’n hofbevel teen die SAPD gekry, wat behels dat die aansoek na die polisie terugverwys word en hulle binne 60 dae die bogemelde inligting aan die burgerregte-organisasie bekend moet maak. Andersins moet wesenlike redes verskaf word waarom hulle dit nie kan doen nie. Die SAPD se advokaat moes egter eers onder regter Hennie de Vos se tong deurloop.

De Vos het die SAPD se advokaat geroskam onder meer omdat hy onvoorbereid was en nóg die staatsprokureur nóg ’n verteenwoordiger van die polisie in die hof teenwoordig was.

De Vos het ook aan die SAPD se advokaat gesê dat die reg en hofreëls van toepassing is op almal, of hulle vir die staat werk of nie en dat die hof nie daar is om speletjies te speel nie.

Hy was ook van mening dat die hele saak van die begin af ’n gemors is nadat die staat aanvanklik weer eens vir uitstel gevra het en nie die regte hofdokumente geliasseer het nie.

De Vos het ook aangevoer dat die instelling van die staatsprokureur die oudste prokureursfirma in die land is en gevra of daar geen kundigheid daar is nie. Dit lyk volgens hom asof niemand meer omgee wat aangaan nie.

Volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, is dit ’n groot oorwinning vir AfriForum. Hein Gonzales, regs- en risikoadviseur vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum, gaan die burgerregte-organisasie met hierdie syfers die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) versoek om ondersoek in te stel na die polisie se nalatige verlies van vuurwapens.

Soortgelyke plasings