|

Regeringsplanne met onteiening is niks anders as nasionalisering nie

Die regering se planne met onteiening sonder vergoeding kom in wese op niks anders as nasionalisering neer nie.

Daar is geen waarborg dat eiendom waarop die staat beslag lê aan enigiemand anders oorgedra sal word nie.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het vandag in ’n sterk bewoorde voorlegging voor die parlement se gesamentlike grondwetlike hersieningskomitee in Taung gesê daar was nie vooruitgang in ’n enkele land waar die regering ’n aanslag op eiendom gedoen het nie. In lande soos Venezuela, Noord-Korea, Zimbabwe en Kuba was die gevolge armoede, ellende en hongersnood.

Die verhore oor grondonteiening sonder vergoeding is vandag in Noordwes voortgesit. Dit is reeds afgehandel in die Vrystaat, Mpumalanga, Limpopo en die Noord-Kaap. Altesame 36 vergaderings is landwyd geskeduleer.

Cameron het gesê AfriForum se lede kan nie die vergadering in Taung bywoon nie omdat dit in werktyd plaasvind. Lede het wel skriftelike voorleggings gemaak wat die organisasie ingedien het. ’n Paar honderd mense het wel die vergadering bygewoon, waar Julius Malema, leier van die EFF, ook gesien is.

Cameron het gesê artikel 25 van die Grondwet, waaraan wysigings oorweeg word, is deel van die handves van regte. Dit vorm die hoeksteen van demokrasie. As aan die handves van regte gepeuter word, word die hoeksteen van demokrasie gewysig.

Hy het voorts gesê artikel 25 gaan nie oor grond nie, maar oor eiendom. “As privaat eiendomsreg geskend word, selfs deur ander wetgewing, vernietig ons die grondslag van die land. Eiendomsreg is die grondslag vir burgerlike vryheid.”

Cameron het ook daarop gewys dat die mosie om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, op verkeerde aannames berus soos dat Suid-Afrika ’n unieke geskiedenis van segregasie en grondontneming het. “Ons erken en verstaan dat wetgewende segregasie ’n historiese werklikheid is, maar elke Suid-Afrikaner het die reg om grond terug te eis wat onregmatig van hom of haar ontneem is.”

Volgens Cameron het die regering tot op hede misluk om hierdie regstellings deur grondrestitusie te doen en in die proses het die regering die burgers van die land gefaal. ’n Verdere aanname dat wit mense 87% van die grond besit is volgens hom verkeerd en waarskynlik ’n statistiek wat van die Guptas kom aangesien dit glad nie waar is nie.

Onlangse studies het in werklikheid getoon dat 42,7% van grond deur die staat besit word. “Hoekom kry mense nie titelaktes op die eiendom wat die staat besit nie? Die meeste van dié grond is in die Oos-Kaap, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal en het landbou-potensiaal, maar dit word nie deur die staat oorgedra nie. Meer as 90% van grondhervormingsprojekte het misluk om die mense aan wie wel grond oorgedra is nie opgelei of bemagtig is om dit produktief te bewerk nie.”

Vergaderings vind vandeesweek ook in Rustenburg, Mahikeng, Jozini, Vryheid, Pietermaritzburg en Kokstad plaas. AfriForum moedig sy lede aan om die organisasie se voorafvergaderings in dié verband by te woon.

Soortgelyke plasings