--> -->
Spyskaart +

Regering wreed om Clive Derby-Lewis nie vry te laat

Januarie 30, 2015 deur Alet Rademeyer

Adv. Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, se besluit om nie vir Clive Derby-Lewis vry te laat nie is ʼn menseregte vernedering vir Suid-Afrika omdat daar nie demokratiese uitkomste vir demokratiese prosesse is. Dié prosesse word eerder deur politiek gedikteer.

Charl Oberholzer, woordvoerder van AfriForum, het in reaksie op die regering se besluit om Eugene de Kock maar nie vir Derby-Lewis of Ferdi Barnard vry te laat nie, gesê daar is duidelik dubbele standaarde in die toestaan van parool en die regering het nou amptelik hulle menslikheid prysgegee.

Volgens Oberholzer is die pleidooi bloot dat daar gelykheid voor die reg moet wees. “Schabir Shaik, ’n veroordeelde misdadiger, dien twee jaar tronkstraf uit en kry mediese parool, terwyl iemand wat byna 80 jaar oud is, gevorderde longkanker het en die afgelope 10 maande in die hospitaal was, parool geweier word.”

Derby-Lewis is waarskynlik nou een van die oudste gevangenes ter wêreld wat vir parool kwalifiseer, maar aan wie dit nie toegestaan word nie, het Oberholzer gesê.
Oberholzer het ook daarop gewys dat Sibusiso Ndebele, die voormalige minister van korrektiewe dienste, met die vrylating van Jackie Selebi gesê dat die departement nie die kapasiteit het om terminaal-siek gevangenes in aanhouding te hou nie. “Wat het intussen verander?”
AfriForum het sy meegevoel teenoor Derby-Lewis se familie en spesifiek sy vrou, Gayle, uitgespreek. “Dit is hartseer hoe die regering iemand van sy demokratiese reg op sy sterfbed kan ontneem.”
Die menseregte-aktivis Rhoda Kadalie, het gesê die regering is nie konsekwent in sy besluite nie en daar is geen logika waarom De Kock vrygelaat kan word en Derby-Lewis nie. “Dit is onmenslik en wreed om Derby-Lewis in die tronk te hou en dit kom neer op en ’n growwe menseregteskending.”

Volgens Kadalie het die regering maar net weer gewys daar is een stel wette vir die ANC en ’n ander vir ander mense. “Kyk maar net hoe Selebi en Shaik behandel is.”
Kadalie het gesê deur die onkonsekwente optrede van die regering, word die oppergesag van die reg aangetas en dit is hoekom mense geen respek meer vir wet en orde het nie en toenemend reg in eie hande neem.

Kadalie het gesê Derby-Lewis behoort om humanitêre redes vrygelaat te word.
Derby-Lewis dien saam met Janusz Walus lewenslange tronkstraf uit weens die moord op Chris Hani, SAKP-leier, op 10 April 1993.

De Kock is in 1996 tot lewenslange tronkstraf gevonnis weens ses moordaanklagte. Hy het vroeër amnestie op talle ander aanklagte aan hom by die Waarheid-en-Versoeningskommissie (WVK) gekry.

Barnard dien lewenslange tronkstraf uit weens die sluipmoord in 1989 op dr. David Webster, die aktivis en Wits-akademikus.