Regering se gebrek aan behoorlike waterbestuur die hoofrede vir ramp


Die burgerregte-organisasie AfriForum is van mening dat die regering se eie nalatigheid en onbevoegdheid grootliks vir Suid-Afrika se waterprobleme verantwoordelik is, en nie klimaatsfaktore soos wat tans aangevoer word nie. Dít volg nadat Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, die voortslepende droogte gister tot ’n nasionale ramp verklaar het.
Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer by AfriForum, meen die regering is nie net jare agter met die bou van damme nie, maar dat te veel water ook verlore gaan weens gebrekkige instandhouding.

“Die regering se transformasiebeleid het daartoe gelei dat noodsaaklike tegniese en bestuursvaardighede onder meer in staatsdepartemente wat met water gemoeid is, verlore gegaan het. Sowat 37% van Suid-Afrika se drinkbare water gaan tans weens onder meer waterlekke verlore.”

Persone met die vereiste vaardighede moet op meriete aangestel word om hierdie probleme aan te pak.

“Die hele land se sosio-maatskaplike stabiliteit is op die spel wanneer dit by water kom en politieke speletjies kan eenvoudig nie in hierdie verband gespeel word nie. Die regering moes vir ’n groeiende bevolking se waterbehoeftes voorsiening gemaak het, tog verloor die land massiewe hoeveelhede water en word beplande nuwe damme nie gebou nie.”

Volgens Brink is die departement van water en sanitasie (DWS) die toonbeeld van swak bestuur. Die DWS het in 2016/2017 R715 miljoen se onreëlmatige en meer as R400 miljoen se ongemagtigde besteding aangegaan. “Tenderkorrupsie is aan die orde van die dag en dit het beslis ’n impak op watervoorsiening.”
Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum, meen dat die land in geheel reeds in ’n waterkrisis is met die nasionale aanbod van water wat tans net-net aan die nasionale aanvraag voldoen. Die DWS is reeds vyf jaar agter met makroprojekte om waterskemas in Lesotho te ontwikkel en verder uit te brei.

“Enige verandering in Suid-Afrika se gewone reënvalpatrone sal ’n watertekort tot gevolg hê. Die DWS en die regering in geheel blyk nie in staat te wees om water tot voordeel van die land te bestuur nie. Dit is die gevolg van die laaste twee dekades se uittog van kundigheid en rampokkers binne die regering wat begrotings wanaanwend om hulself te bevoordeel. Voorts is daar jare laas Blou- en Groendruppelverslae uitgereik, en die mees onlangse verslae het daarop gedui dat drink- en afvalwater op baie plekke in ’n erbarmlike toestand is,” sê Pawson.

Brink bevraagteken ook die stap om die droogte tot ’n nasionale ramp te verklaar terwyl baie provinsies se damme vol of taamlik vol is.

“Die regering moet eerder fokus op die implementering van beter beleide en bestuursmeganismes, want die land se waterprobleme is nie ’n nuwe krisis nie en klimaatsverskynsels is slegs ’n bydraende faktor.”

Die publiek word derhalwe aangemoedig om by burgerregte-organisasies soos AfriForum aan te sluit. AfriForum en gemeenskappe plaas suksesvol druk op talle munisipaliteite om hul watergehalte en -voorsiening te verbeter, terwyl daar ook aan selfbestuursinisiatiewe gewerk word.
Is jóú water skoon? SMS die naam van jou dorp na 45354 en gee AfriForum die mandaat om die gehalte van jou dorp se water te toets. Elke SMS kos R1.

Soortgelyke plasings