|

Regering moet drasties meer in onderrig van jong kinders belê.

Kenners in vroeë kinderontwikkeling (ECD) stem saam met prof. Servaas van der Berg van die Universiteit van Stellenbosch wat meen daar word te min op voorskoolse opvoeding en die grondslagfase (gr. 1 – 3) gefokus.

Van der Berg het navorsing gedoen en tot die slotsom gekom as kinders teen gr. 4 nie op ’n bepaalde akademiese standaard is nie, hy met 90% sekerheid kan sê dat hulle nie universiteit toe sal gaan nie.

Volgens Van der Berg is daar nie genoeg data oor voorskoolse onderrig nie, maar hy meen dit is moontlik dat kinders ’n hele paar jaar akademies agter is teen die tyd wat hulle in gr. 1 kom.

Dr. Ina Joubert, kenner in vroeë kinderontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria (UP), stem saam dat te min gedoen word om kinders vir skool voor te berei.

Die grootste struikelblokke is dat daar nie genoeg fasiliteite en opgeleide onderwysers is nie. Nieregeringsorganisasies speel ’n groot rol om vroeë kinderontwikkeling vir soveel kinders moontlik beskikbaar te stel, maar dit is nie voldoende nie. Daar is steeds miljoene voorskoolse kinders wat geen toegang tot behoorlike vroeë kinderontwikkeling het nie.

Volgens Joubert is nog ’n probleem dat die hantering van tussen 0 en 4-jarige kinders tussen verskillende staatsdepartemente soos welsyn en onderwys versplinter is en dat daar nie ’n vaartbelynde beleid is wat na hul ontwikkeling in totaal te kyk nie.

Joubert het gesê daar is op die oomblik een positiewe oorweging en dit is om ’n graadkursus by universiteite in te stel wat spesifiek op die onderrig van 1 – 4-jariges is. Dit is egter nog net in ’n gespreksfase.

Joubert het gesê hoewel die regering gereeld sê vroeë kinderontwikkeling is ’n nasionale prioriteit, word te min in die jong kind belê. Volgens haar is daar baie goeie praktyke in lande soos die VSA, Brittanje en selfs Japan waar op die opvoeding van jong kinders gefokus word.

Hugo Vermeulen verbonde aan Solidariteit Helpende Hand, sê in Suid-Afrika word te min klem op preprimêre en primêre onderwys gelê. Dit gebeur hoofsaaklik net in goeie skole waar opgeleide, gedissiplineerde onderwysers is en ouers betrokke is by hul kinders se ontwikkeling en byvoorbeeld gereeld vir hulle lees.

Vermeulen meen in die algemeen word heeltemal te min klem op lees geplaas. “Dit is inderdaad so dat as die fondasie nie teen gr. 4 gevestig is nie, daar nie regtig verder gebou kan word nie.”

Hy het daarop gewys dat die staat se prioriteite ten opsigte van vroeë kinderontwikkeling verkeerd is. “In Gauteng dink die LUR hy doen kinders ’n guns om tablette uit te deel. Pleks dat daar eerder aandag aan voorskoolse onderrig gegee word.”

Vermeulen het gesê aangesien lees so ’n belangrike deel van ’n kind se ontwikkeling is, het Helpende Hand ’n leesapp ontwikkel wat op ouers se selfone afgelaai kan word. Dit stel die kind in staat om op ’n prettige manier baie belangrike vaardighede te ontwikkel. “Te min mense besef dat die kind se belangrikste breinontwikkeling tussen 3 en 7 jaar plaasvind en dat stimulering in dié tyd baie belangrik is.”

Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, beaam dat kinders van vroeg af die nodige aandag en onderrig moet kry ten einde hulle vir skool en universiteit voor te berei.

Sy meen dit is baie belangrik dat soveel moontlik leerlinge toegang tot gr. R moet kry om hul kanse op toekomstige sukses te verbeter.

Moedertaalonderrig is net so belangrik. “Leerlinge se begrip is net soveel beter as hulle in hul moedertaal onderrig word. Daarom dat AfriForum die afgelope twee jaar ’n SLIM-veldtog (Studeer en Leer in jou Moedertaal) het om dit te bevorder.”

Klik hier vir die SLIM video:

Soortgelyke plasings