Spyskaart +

Regering die oorsaak van waterbeperkings; AfriForum dien mosie van wantroue in

Oktober 27, 2015 deur Esmarie Prinsloo

Die regering is die rede waarom Suid-Afrika se waterbronne opdroog. Dít is die omgewingsake-afdeling by die burgerregtegroep, AfriForum, se ingeligte standpunt.

“AfriForum het die departement van waterwese in 2012 – op grond van ons kennis en navorsing – gewaarsku dat Suid-Afrika teen 2015 watertekorte sal ondervind en dat pro-aktiewe ingryping nodig was. Dit is drie jaar later duidelik dat ons insette ignoreer is deur ’n regering wat nie gepla is deur die land se probleme nie, wat die ekonomie miljoene kos,” sê Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum.

AfriForum het onlangs bekendgemaak dat die regering die grootste besoedelaar van Suid-Afrika se water is, omdat hulle elke dag sowat 3 642 miljoen liter se rioolafval in ons riviere en damme stort. Dít beteken dat 74 % van die rioolwerke die land se waterbronne onwettig besoedel.

“Die departement het bewys dat hulle onbevoeg is. Hulle fokus net daarop om wette op die privaat bedryf af te dwing en nie teen die grootste besoedelaars, dus regeringsamptenare, nie. Ons is in ’n waterkrisis gedompel as gevolg van swak bestuur, swak beleid, swak beplanning en weereens, swak instandhouding, terwyl die bietjie water wat oor is roekeloos deur die regering besoedel word,” sê Kleynhans.

AfriForum sê hulle het geen vertroue in die departement van water en sanitasie (DWS) om die land se waterprobleme op te los nie. Die organisasie sal daarom eerskomende Donderdag, 29 Oktober 2015, namens hul meer as 150 000 belastingbetalende lede en ander Suid-Afrikaners wat die saak steun, ’n mosie van wantroue by die DWS indien.

“Dit is maklik vir regeringsamptenare om yskoue gebottelde water te drink, terwyl gewone Suid-Afrikaners nie ’n druppel water het nie. Baie sakeondernemings moes al hulle deure sluit of verloor noodsaaklike wins, omdat hulle waterbesparingsmaatreëls moet toepas.”

“Dit lyk of die regering blindelings glo dat daar altyd water sal wees. Dit is dieselfde beginsel wanneer ons van vrugtelose en verkwiste uitgawes praat. Die regering sê altyd daar is genoeg geld. Dit is tyd dat ons al hierdie geld aanwend om die waterprobleme die hoof te bied,” sê Kleynhans.

SMS “water” na 45354 om by AfriForum aan te sluit en om hul inisiatief vir die volhoubare gebruik en bewaring van die land se waterbronne te steun. (R1/SMS)

• Diegene wat die mosie van wantroue steun, kan die petisie hier teken.