|

Redes waarom Malema tronk toe moet gaan ná skietery

AfriForum beskou die aangeleentheid rondom die skote wat Julius Malema, leier van die EFF, na bewering met ’n voorwerp wat soos ’n aanvalsgeweer lyk afgevuur het van die staanspoor af in ’n ernstige lig. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het verlede week met die vervolging van Malema oor hierdie saak begin ná volgehoue druk deur die burgerregteorganisasie.

AfriForum het met verskeie deskundiges in gesprek getree oor die afvuur van hierdie skote tydens die EFF se vyfjaarfeesvieringe in 2018 in Mdantsane. “Daar is veral ses punte wat Malema duur te staan kan kom gedurende sy verdediging teen die strafregtelike klagtes teen hom,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

1. Skootflitse
Op die videogreep, wat soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het, is dit duidelik dat daar skootflitse aanwesig is met die afvuur van elke skoot. Skootflitse is die normale gevolg van die slagdoppie wat die poeier in die rondte ontbrand om sodoende die projektiel met hoë druk te laat uitskiet.

2. Terugslag
Dit is ook op die video duidelik dat daar terugslag is wat plaasvind met elke skoot wat gevuur word. Malema hou die geweer op die video stewig met twee hande vas, juis om vir hierdie terugslag te kompenseer. ’n Speelgoedgeweer en/of ’n ander voorwerp wat nie werklike ammunisie afvuur nie, sal nie hierdie terugslag veroorsaak nie.

3. Hantering
Die voorwerp waarmee Malema die skote afgevuur het, is baie versigtig hanteer met die oorhandiging en terugneem daarvan. Adriaan Snyman, Malema se sekuriteitshoof tydens die gebeurtenis, het die geweer met groot omsigtigheid aan Malema oorhandig én weer versigtig kom haal nadat die skote afgevuur is. Hy sou beswaarlik ’n speelgoedgeweer of ander voorwerp op dié manier hanteer.

4. Klank
Die klank en gesuis van die skote wat duidelik op die videogreep hoorbaar is, weerlê baie van Malema se verwere dat dit nie ’n regte vuurwapen of ammunisie is wat afgevuur is nie, aldus die geraadpleegde deskundiges.

5. Weergawes
Malema en die EFF het hul weergawes sedert die voorval aanhoudend aangepas. Daar is aanvanklik beweer dat daar van loskruitpatrone (Engels: blanks) gebruik gemaak is. Die geraadpleegde deskundiges beskryf dié weergawe as onwaarskynlik aangesien die nodige toebehore vir die afvuur hiervan ontbreek het en die geweer nie gereageer het soos ’n geweer wat hierdie loskruitpatrone afvuur nie. Die EFF het later gemeld dat dit nie ’n regte vuurwapen was nie, maar ’n speelgoedwapen wat in sinkronisasie met vuurwerke gebruik is om die realistiese effek te skep. Die deskundiges verwerp ook hierdie weergawe weens die redes hierbo.

6. Malema se sekuriteitshoof het die voorwerp hanteer en oorhandig
Van al die mense op die verhoog gedurende die verrigtinge was dit Snyman wat die voorwerp aan Malema oorhandig en weer teruggeneem het. Snyman se sekuriteitsmaatskappy is bekend daarvoor dat dit soortgelyke vuurwapens besit. Snyman het homself ook al in die verlede skuldig gemaak aan die onvanpaste dra van dié tipe wapens tydens een van Malema se hofverskynings. Hierdie voorval het groot opslae veroorsaak en dit dui op Snyman se oënskynlike traak-my-nieagtige houding met betrekking tot dié vuurwapens.

Die burgerregtewaghond het sy vrees uitgespreek dat indien Malema nie spoedig vervolg word vir hierdie misdade nie, dit ’n gevaarlike presedent kan skep en wetteloosheid en anargie tot gevolg sal hê. Hierdie vrees is tot ’n groot mate verwesenlik toe verskeie lede van die publiek lukraak skote in die lug begin afvuur het tydens begrafnisse, stakings en partytjies.

“Ons is van mening dat daar meer as voldoende bewyse bestaan om Malema aan die pen te laat ry. Die voorbeeld wat hy skep as prominente figuur word slaafs deur baie van sy ondersteuners nagedoen. Enige wandade wat ’n persoon met hierdie aansien pleeg, moet in ’n baie ernstiger lig beskou word. AfriForum het hierdie saak só ver gedryf en sal dit met valkoë dophou totdat die saak volbring is,” sê Cameron.

 

Soortgelyke plasings