|

Reddersburg-boere in nood kry hulp met voer

 

Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Die geluid van reën wat val, is musiek in ons ore. Totdat ons weer daardie musiek hoor, het ons dringend hulp nodig.”

Só meen boere van die Reddersburg-distrik in die Vrystaat, wat soos baie ander boere en inwoners in verskeie dele van land al vir ʼn geruime onder die huidige droogte gebuk gaan.

Die Reddersburg-distrik se reënval het die afgelope vyf jaar drasties verminder, wat daartoe gelei het dat sekere boere in die area met miljoene rande se produksieskuld sit of van hul vee en grond moet verkoop om kop bo water te hou.

AfriForum het gister 85 ton voer aan boere in dié distrik geskenk. Dit is moontlik gemaak deur bydraes van die publiek sowel as donasies van twee Nederlandse organisasies genaamd Woord en Daad en Hulp Bij Bijzondere Noden.

Die skenkings volg nadat die burgerregte-organisasie vroeër vanjaar aangekondig het dat hul ’n veldtog van stapel gaan stuur wat daarop gemik is om hulp aan boere te verleen. Boere wat tans hulp kry, is vroeër genader om aan te dui wat hul grootste behoeftes is.

Volgens Pieter Brink, wie se plaas in die Reddersburg-omgewing sedert 1836 in sy familie is, is die gemiddelde boer verantwoordelik vir sowat ses plaaswerkers se gesinne. Hy meen dat nie net boere en verbruikers onder die droogte ly nie, maar dat plaaswerkers se inkomste, en dus die welstand van hul vroue en kinders, óók in gedrang is.

Hannes Coertsen, nog ʼn boer, meen verbruikers in stede besef nie werklik hoe groot die impak van die droogte op landbou en produksie is totdat hulleself sien wat op plase aangaan nie.

Hy meen ook dat die regering voete gesleep het deur nie die droogte as ʼn krisis te verklaar nie. Hulle moes lankal ingegryp het om die boere te help.

Francois Botha, ook ʼn boer, het aan Forum Nuus gesê dat die voer wat hy ontvang het ʼn lewensaar in sy lammer- en kalfseisoen is.

“Ek moes reeds die helfte van my vee verkoop omdat daar nie veld is nie. Ek is nou totaal afhanklik van voer vir die komende seisoen.”

Frik Steenberg, wat ook een van die ses boere is wat voer ontvang het, het gesê dat dié voer baie van sy vee sal spaar wat andersins nie in die volgende maand sou oorleef nie.

 

“Hulle sê ʼn boer maak ʼn plan, maar ek was nou op ʼn punt waar ek nie meer kans gesien het om planne te maak nie. Die voer kom dus op presies die regte tyd om my by te staan.”

Volgens Henk Maree, AfriForum se nasionale woordvoerder vir dié veldtog, moet die Suid-Afrikaanse publiek besef dat die droogte nie verby is nie en dat talle boere steeds op die punt staan om hul plase te verloor.

“Die publiek se ondersteuning is uiters belangrik,” meen hy.

Mense wat betrokke wil raak, kan hul name na 38312 SMS. Elke SMS sal R10 tot die droogtefonds bydra.

Soortgelyke plasings