--> -->
Spyskaart +

“Rassisme is nie ons grootste probleem nie”

Augustus 31, 2016 deur Annelise

Toespraak deur Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum tydens die gesprek oor rassisme op 26 Augustus 2016 in die Equitas Ouditorium by die Universiteit van die Vrystaat. Die gesprek is gefasiliteer deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie.  

(Hierdie toespraak is oorspronklik in Engels gelewer. Sien die oorspronklike weergawe hier.)

Die voorreg daarvan om laaste te praat

Die feit dat ek vandag die laaste spreker is, verleen my in werklikheid ʼn “voorreg” in die sin dat dit my die geleentheid bied om die toespraak wat ek voorberei het, te herskryf om te reageer op ʼn paar van die stellings wat gemaak is deur die ander sprekers. Ek is veral besorg oor die opmerkings wat gemaak is deur die verteenwoordiger van SASCO, wat voor my aan die beurt was. Ons het vandag gehoor hoe syfers rondgeslinger word wat opgemaak is deur politici, maar wat ook alreeds onjuis bewys is deur navorsers. Een voorbeeld is die bewering dat wit mense op die een of ander manier 80% van die grond in Suid-Afrika besit. Dit is eenvoudig nie waar nie. Dit word nie deur enige navorsing gesteun nie. Dit is opgemaak deur politici binne die kamp van die regerende party, en dit is verkeerd bewys deur verskeie akademici. Daar is ook baie frustrasie oor die sogenaamde erge vlakke van wit heerskappy aan hierdie universiteit. Maar tog het ons hierdie gesprek op die kampus van ʼn universiteit met ʼn swart viserektor en ‘n swart rektor en ʼn swart kanselier, in ʼn munisipale wyk wat ‘n swart raadslid het, in ʼn stad met ‘n swart burgemeester in ʼn provinsie met ʼn swart premier, in ʼn land met ʼn swart adjunkpresident en ʼn swart president. Ten spyte hiervan praat ons om een of ander rede oor hoe wit mense alles beheer.

(Ontwrigting vanuit die gehoor)

Wat ons vandag gehoor het, is stellings wat wemel van politieke retoriek en wat nie gegrond is op enige bewyse nie. Dus gaan ek probeer om so min moontlik politieke retoriek te gebruik en om my argumente te baseer op soveel bewese feite en navorsing as moontlik.

Die grootste vyand van die geskiedenis en van die waarheid

Die skrywer van The End of Racism, Dinesh D’Souza het gesê die onderwerp van ras, meer as enige ander onderwerp, skep taboes, en taboes is die vyand van die geskiedenis en van die waarheid. Wanneer ons praat oor ras in Suid-Afrika, is daar ongelukkig ʼn klomp taboes – dinge wat jy eenvoudig nie kan sê nie, want as jy hierdie dinge sê, gaan jy dalk verkeerd vertolk word en jy kan as ʼn rassis geëtiketteer word. Daarom gaan ek sekere stellings maak met die wete dat ek dalk verkeerd vertolk kan word en gevolglik ook ʼn rassis genoem gaan word. Maar ek hoop dat as dit die geval is en as ek daarvan beskuldig word, dat ek die geleentheid sal kry om te reageer en die dinge wat ek nou gaan sê, te kontekstualiseer.

Kriminalisering van rassisme en haatspraak

Ek het ʼn artikel geskryf oor die kwessie van die kriminalisering van rassisme en haatspraak, getiteld “Vyftien redes waarom die ANC se rassisme-wetsontwerp ʼn baie slegte idee is”. Ek is nie van plan om al hierdie redes nou te herhaal nie, maar laat my toe om kortliks vyf redes by te voeg tot dié wat reeds in die inleidende opmerkings van hierdie bespreking genoem is:

  1. Rassisme is ʼn sosiale kwessie. Wêreldwyd was dit nog altyd ʼn slegte idee vir regerings om betrokke te raak by wetgewing wat gemik is op die regulering van sosiale kwessies. Dit is ʼn simptoom van totalitarisme; of eerder ʼn teken dat ons op ʼn afwaartse koers is op pad na totalitarisme.
  1. Daar is reeds baie wetgewing in plek wat handel oor rassisme. Die Grondwet bepaal dat die reg tot vryheid van spraak nie haatspraak insluit nie; en die regte op gelykheid en menswaardigheid is vervat in artikels 9 en 10. Die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (PEPUDA) handel oor haatspraak en diskriminasie en wys daarop dat die aanhitsing van ʼn misdaad reeds ʼn misdaad op sigself is. As ek daarom die pleeg van ʼn sekere misdaad – soos aanranding, verkragting of moord – op ʼn sekere ras sou aanhits, sou daar nie nuwe wetgewing nodig wees om dit te hanteer nie, want die aksie op sigself is reeds ʼn misdaad.
  1. Ons het gesien – en ons het dit weer eens gehoor van die SASCO-verteenwoordiger wat voor my aan die woord was – dat die ANC ʼn aktiewe rolspeler is in die debat oor rassisme, en ek kan byvoeg dat daar niks daarmee fout is as die ANC ʼn aktiewe rolspeler is nie. Maar in Suid-Afrika vind die regerende party dit bitter moeilik om te onderskei tussen party en staat. Ons het byvoorbeeld vergaderings gehad met die ANC, net om onsself in gesprek te vind met staatsamptenare; en ons het vergaderings met die regering gehad, net om onsself in gesprek te vind met ANC-lede wat nie werk vir die regering nie. As hierdie voorgestelde rassismewet dan geïmplementeer word, sal die ANC effektief gelyktydig aktiewe rolspeler en skeidsregter wees in die stryd teen rassisme.
  1. Baie individuele voorbeelde van wit rassisme is vandag rondgeslinger. Ek kan ook ʼn lys maak en julle vir lank besig hou met individuele voorbeelde van growwe vorme van rassisme teenoor wit mense, onder andere deur baie mense in die regerende party, insluitend parlementslede en kabinetsministers. Noem my dus skepties of pessimisties, maar ek twyfel dat indien ons rassisme kriminaliseer, soos voorgestel word, iemand soos Lulu Xingwana, minister vir vroue, kinders en mense met gestremdhede, vervolg sal word vir haar verklaring op internasionale televisie dat die probleem met wit mans is dat hulle ‘n godsdiens aanhang wat verkondig dat vroue hul eiendom is en dat hulle vroue vermoor kan word na willekeur. Ek is redelik seker dat wetgewing soos hierdie nie konsekwent toegepas sal word nie.
  1. Apartheid is in 1973 verklaar as ʼn misdaad teen die mensdom. Een van die belangrikste argumente wat deur die ANC geopper is om apartheid te verklaar as ʼn misdaad teen die mensdom, was die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme van 1950, wat die bevordering van kommunisme verklaar het as ʼn strafbare oortreding. Die argument was dat ʼn wet wat lei tot die vervolging van mense omdat hulle politieke oortuigings verskil van dié van die regerende elite, neerkom op ʼn misdaad teen die mensdom. Volgens die hoofsweep van die ANC in die parlement sal hierdie nuwe wetgewing lei tot die vervolging van mense wat apartheid verromantiseer of idealiseer. Ek stem saam dat apartheid nie verromantiseer moet word nie, om ooglopende redes, maar die oomblik wat ons begin om te argumenteer dat mense vervolg moet word vir hulle politieke oortuigings, is ons op ʼn baie gevaarlike en glibberige helling. Ons kan nie gelyktydig argumenteer dat apartheid ʼn misdaad teen die mensdom was as gevolg van die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme en ook dat mense in die nuwe Suid-Afrika vervolg moet word vir die verromantisering van apartheid nie. Ons moet kies: Ons kan sê dat apartheid ʼn misdaad teen die mensdom was en dat hierdie wet ʼn slegte idee is; of ons kan sê dat apartheid nie ʼn misdaad teen die mensdom was nie en dat hierdie wet in werklikheid ʼn goeie idee is.

Demokrasie vs. meerderheidsregering

In vandag se gesprekke het ons baie gonswoorde gehoor, en woorde wat verskillende interpretasies kan hê, soos demokrasie, rassisme en witheid. Dit is belangrik om aandag te skenk aan die verskillende definisies wat mense koppel aan die woord demokrasie. Dit word algemeen aanvaar dat die verskil tussen demokrasie en meerderheidsregering lê in die oppergesag van die reg en die beskerming van minderheidsregte. In ʼn demokrasie moet minderhede inderdaad nie die land regeer nie, maar hulle moet steeds ingesluit en gerespekteer word en hulle regte moet ook beskerm word. As die beskerming van minderheidsregte jou ongemaklik maak, dan moet jy jouself ernstig afvra of jy in regtig die idee van demokrasie steun.

Rassisme is nie ons grootste probleem nie

Ek weet dat dit wat ek nou gaan sê, teenstrydig gaan klink, maar ek gaan dit nogtans sê. Eerstens is rassisme inderdaad ʼn groot probleem. Maar rassisme is nie die grootste probleem in Suid-Afrika nie. Dit is nie eens een van die grootste probleme in Suid-Afrika nie. Inteendeel, dit is ʼn simptoom van die grootste probleme in Suid-Afrika. Dit is nie net my mening nie, maar die mening van die oorgrote meerderheid mense in Suid-Afrika. In ʼn onlangse studie, wat gedoen is in opdrag van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, is mense gevra wat hulle beskou as die grootste onopgeloste probleem in Suid-Afrika. Slegs 4,7% het gesê dat dit rassisme en xenofobie is. Ander probleme, soos werkloosheid en misdaad, is beskou as die grootste probleme in Suid-Afrika. En by AfriForum is ons van mening dat rassisme ʼn simptoom is van hierdie probleme. As ons derhalwe wil fokus op die probleem van rassisme, wat die onderwerp van vandag se gesprek is, sal ons die probleme van werkloosheid moet hanteer – en by implikasie dan ook die onderwyskrisis, misdaad en politieke leierskap. Op hierdie wyse sou ons ook die probleem van rassisme in ‘n groot mate oplos.

Nog ʼn interessante bevinding van daardie spesifieke opname was dat meer wit as swart Suid-Afrikaners aangedui het dat hulle rassisme ervaar. Omtrent 24,7% van wit mense het aangedui dat hulle rassisme ervaar, in teenstelling met 20,6% van swart mense.

(Ontwrigting vanuit die gehoor)

Ek verwelkom dit dat julle van ʼn ander mening is, maar as julle nie saamstem nie, wil ek graag hê dat julle die navorsing moet bring wat hierdie bevindinge weerlê, en dan kan ons gesels oor wie die meeste rassisme ervaar.

Onderwys, ons grootste probleem

Suid-Afrika se grootste probleem is die onderwyskrisis. Ja, ons het gepraat oor werkloosheid, maar hoe kan ons dit oplos? Deur opvoeding. Suid-Afrika se probleem is nie soseer werkloosheid nie, maar eerder indiensneembaarheid. Hoekom sê ek so? 80% van skole in Suid-Afrika is disfunksioneel. Ons het ‘n enorme onderwyskrisis. In die kampusonluste by universiteite regoor die land sedert die begin van hierdie jaar het skade aan eiendom reeds meer as R460 miljoen beloop, maar nie ʼn enkele student is hiervoor vervolg nie, wat op ʼn baie dieperliggende probleem dui.

(Ontwrigting vanuit die gehoor)

Dankie, jou onverdraagsaamheid word aangeteken…

Op ʼn lys van 149 lande was Suid-Afrika tweedelaaste wat betref sy vermoë om jongmense op te voed in wiskunde. In ʼn onlangse opname deur die Solidariteit Helpende Hand, het sowat driekwart van die wiskunde-onderwysers by ʼn wiskunde-onderwyskonferensie ook gesê dat die ondersteuning wat hulle van die regering kry vir die onderrig van wiskunde, onvoldoende was.

As ons dus praat oor ekonomiese mag wat in die hande van wit mense is en ons werk nie om die onderwyskrisis op te los en te sorg dat jong swart Suid-Afrikaners beter opleiding kry, sodat hulle beter kan meeding nie, dan is ons kortsigtig en populisties en ons los niks op nie.

Met verwysing na die vorige spreker (van SASCO): as jy onder jou volgelinge sou verkondig dat die oplossing vir hulle sou wees om harder te studeer, sal jy waarskynlik minder steun hê, want jou standpunt sou meer realisties en minder populisties wees, en in die huidige politieke landskap in Suid-Afrika het ons gesien dat jy populisties moet wees om ondersteuning te kan kry, ongeag of jy sin praat of nie. Ons kan voortgaan om die ander ras te blameer vir alles wat verkeerd is in die land, maar dit gaan ons nêrens bring nie. As ons nie die onderwysstelsel regruk nie, gaan ons nie die land regruk nie.

Rasgebaseerde beleid help nie

Swart Ekonomiese Bemagtiging en Regstellende Aksie is ook nie die oplossing nie. Die oorgrote meerderheid werklose mense in hierdie land is steeds swart. Dit is ʼn groot probleem, want daar is groeiende frustrasie onder jong swart Suid-Afrikaners wat verwag het dat die nuwe Suid-Afrika hulle sou help om op gelyke vlak te mee te ding. Hierdie beleid baat net diegene met politieke verbintenisse en nie die meerderheid mense in hierdie land nie.

Jou definisie van gelykheid

Uiteindelik kom alles neer op wat jou definisie van gelykheid is. Dit wil voorkom asof ons almal verskillende definisies het van wat gelykheid eintlik beteken. Praat ons byvoorbeeld van gelyke wegspringplekke, of praat ons van maatreëls om te verseker dat almal die wenstreep terselfdertyd moet bereik? Dit klink dalk eenvoudig, maar dit veroorsaak ʼn groot verskil in die manier waarop ons handel met ongelykheid in Suid-Afrika. As jou definisie is dat ons almal die wenstreep op dieselfde tyd moet bereik, is die vraag: Hoe kan ons dit regkry? Moet ons sê dat die persoon wat die wenstreep eerste bereik het, teruggehou moet word totdat die stadiger atleet hom kan inhaal, en hom dan laat gaan sodat hulle die wenstreep gelyk kan oorsteek nie? Of moet ons sê dat die stadiger atlete ontwikkel moet word met behoorlike opleiding (onderwys) om seker te maak dat hulle op gelyke vlak kan meeding? Dit blyk dat die diskoers in Suid-Afrika daarop gemik is om mense die wenstreep gelyktydig te laat bereik, maar dan deur beperkings te plaas op die vinniger atlete, en nie deur die verskaffing van behoorlike opleiding aan die ander atlete om hulle in staat stel om teen dieselfde tempo te hardloop nie, met dien verstande dat hulle ewe hard werk.

As dit is jou definisie is van gelykheid, kan ons net sowel vandag besluit dat ons nie van plan is om rassesamehorigheid na te streef in hierdie land. Dit is nie moontlik om rassesamehorigheid te bereik terwyl daar maatreëls in plek is wat sommige mense verhoed om die wenstreep voor die ander te bereik nie, en om mense in permanente kategorieë te plaas op grond van die kleur van hul vel, om te verseker dat verskillende rasse verskillende behandeling ontvang nie. As ons dit doen, sal ons nooit in staat wees om rassesamehorigheid te bereik in hierdie land nie. Ons moet kies watter doel ons wil nastreef: rassekategorisering of rassesamehorigheid.

Van radikaal tot liberaal tot rassisties

Ek wil julle daaraan herinner dat 62% Suid-Afrikaners aangedui het dat, en ek haal aan: “Al hierdie gepraat van rassisme en kolonialisme is ʼn poging deur politici om verskonings vir hul eie mislukkings te vind.”

Die edelagbare regter van die Vrystaatse hooggeregshof, wat voor my gepraat het, het die swart Amerikaanse ekonoom, Thomas Sowell aangehaal. Ek wil julle graag van ʼn ander aanhaling deur Thomas Sowell voorsien. Sowell het gesê:

“As jy nog altyd geglo het dat almal moet speel volgens dieselfde reëls en geoordeel moet word volgens dieselfde standaarde, sou jy 60 jaar gelede as ʼn radikalis gebrandmerk wees, 30 jaar gelede as ʼn liberalis en vandag as ʼn rassis.”

Dankie.

Ernst Roets

Ernst is die adjunk uitvoerende hoof van AfriForum

Volg Ernst op Twitter by @ernstroets