|

Rassisme en vals beskuldigings oor K-woord in SAPD ontbloot

’n Tendens van sistemiese rassisme en vals beskuldigings teen veral wit polisielede dat hulle die K-woord teenoor kollegas gebruik, is vandag deur Solidariteit ontbloot.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê daar is 13 voorbeelde van wit lede wat van rassisme aangekla word. In bykans al die gevalle, sommige is nog nie afgehandel nie, is hulle onskuldig bevind en blyk daar is daar oorhaastig teen hulle in dissiplinêre verhore opgetree.

“Die misbruik en valse beskuldigings dat sommige polisielede die K-woord teenoor kollegas gebruik, het ’n wapen in die hande van polisielede geword wat aan wangedrag skuldig is en sodoende dissiplinêre optrede probeer vryspring.”

Volgens Hermann is die polisielede wat valslik beskuldig word sonder uitsondering lojale mense wat net die publiek wil dien. “Daar is nie ’n greintjie rassisme in hulle nie en daarom is die klagtes so ernstig. Dit is skreiend om te dink dat polisielede wat hul aan vergrype en wangedrag skuldig maak die K-woord misbruik om lojale mense in die polisie se lewens en loopbane te vernietig.”

Hermann meen daar is dubbele standaarde in die polisie wanneer dit by dissiplinêre optrede kom. Waar polisielede hulle aan klipharde haatspraak skuldig maak, word voete gesleep om teen hulle op te tree.

Hy het na die uitsprake van Siphiwe Keneth Mtsweni, ’n SAPD-lid, op Facebook verwys wat op 18 Februarie vanjaar selfs uitlatings vir geweldsmisdaad gemaak het. ’n Gedeelte van die inskrywing lui so:

Unfortunately humans have never been white…you are sub-humans meaning alien creature like…..You think big but plan small…Crying babies, tastings your own f***ng medicine…EFF is coming seuntjie…hear me boy….your wife is going to be my b*tch…and turn your daughers to be my leisure snacks when I get h*rny…And one more thing Satan get the f*** out of Africa…

Klagtes teen Mtsweni is by die menseregtekommissie (MRK) ingedien wat nog niks gedoen het nie, terwyl ’n dissiplinêre verhoor deur die SAPD ook nog voortsleep.

Renate Barnard, sektorkoördineerder: spesiale projekte by Solidariteit, vertel van die skokkende behandeling wat polisielede kry teen wie valse bewerings gemaak is. Een só geval is die van Lt.-kol. Annemarie Oosthuizen, voormalige MHB-bevelvoerder van die SAPD in Klerksdorp. Twee junior lede wou dissiplinêre stappe vir wangedrag teen haar instel nadat hulle onder haar bevel versuim het om vir diens aan te meld. Hulle het haar beskuldig dat sy die K-woord gebruik het. Sy is intern verhoor, die MRK het haar gelykheidshof toe geneem en sy is telkens onskuldig bevind. Haar saak sal in April aanstaande jaar in die arbeidshof voorkom. Niks het met die lede gebeur wat haar valslik beskuldig het nie.

Volgens Barnard sal daar in die arbeidshof aangevoer word dat die SAPD ’n rassistiese werkgewer is. “Maar al is daar vergoeding, kan niks opmaak vir die emosionele skade en verwoesting van onskuldige lede se lewens nie.”

Barnard meen daar is dissiplinêre verval in die SAPD wat ook verduidelik waarom die land in die toestand is wat dit is. Sy sê ’n situasie is ook aan die ontwikkel waar eerbare en lojale polisielede eerder verby die wangedrag van swak polisielede kyk uit vrees dat hulle geviktimiseer gaan word en hul werk sal verloor.

Hermann meen dit kan nie geduld word dat sommige polisielede rassisme gebruik om ander te boelie onder die vaandel van nie-rassigheid nie.

Solidariteit het ook ’n veldtog aangekondig wat ten doel het om rasseboelies binne die SAPD te ontbloot. ’n Deel van die veldtog fokus daarop om lede aan te moedig om rassisme en dubbele standaarde by Solidariteit aan te meld sodat ’n omvattende verslag hieroor opgestel kan word. Dit sal aan die SAPD en MRK oorhandig word. Verontregte SAPD-lede kan www.solidariteit.co.za besoek om hul verhale te vertel.

Soortgelyke plasings