Verkragting – daar is hulp beskikbaar

“Jesus, ek weet dat ek tot alles in staat is deur U wat my die krag gee. Dankie dat U saam met my buk om die legkaartstukkies van my lewe op te tel elke keer as dit in duie stort. Dankie dat daar een ry spore is in die tye wanneer U my dra. Dankie dat U altyd daar is in tye wanneer die water bitter is. U is die Een wat my sterk maak wanneer ek swak voel. U is die Een wat my lei as ek sonder rigting is. Dankie vir U nabyheid elke dag in my lewe.

Jesus, U het van my ’n nuwe mens gemaak. Wys my deur u Gees wat in my woon, hoe om u beeld suiwer te weerkaats in die donker wêreld. Amen.”

Die gebed van ’n vrou wat verkrag is en weer opgestaan het met nuwe hoop vir die toekoms.

Die formele definisie van verkragting wat in ons strafregstelsel gebruik word, is:

“Enige persoon wat wederregtelik en opsetlik ’n daad van seksuele penetrasie pleeg met ’n klaer, sonder die instemming van die klaer, is skuldig aan die misdaad van verkragting.”

’n Vrou wat verkrag is, sit met die trauma van hierdie mishandeling en ook met die stigma van verkragting. Die skande en vernedering wat ’n vrou voel wanneer mense weet sy is verkrag, maak hierdie misdaad net meer traumaties.

Wat om te doen ná die verkragting:

  • Gaan so sou as moontlik na ’n veilige plek toe.
  • Vertel die eerste persoon wat jy sien en vertrou wat gebeur het.
  • Moenie jou klere weggooi of was nie, dit bevat dalk bewyse soos hare, bloed of semen van die verkragter.
  • Moet ook nie jouself was voordat ’n dokter jou ondersoek het nie.
  • As jy erg beseer is of bloei, gaan direk na ’n ongevalle-afdeling. Indien jy nie uitwendig beseer is nie, gaan so gou moontlik na ’n staatshospitaal sodat jy voorbehoedende medikasie kan kry. Die polisie kan na die hospitaal kom indien jy besluit om die verkragting aan te meld.
  • As jy nie MIV-positief is nie, sal die hospitaal vir jou antiretrovirale middels gee om te keer dat jy met MIV besmet word.
  • Besluit of jy die verkragting by die polisie wil aanmeld.

Algemene gevoelens oor of reaksies na verkragting:

  • Skok
  • Verlies
  • Nagmerries
  • Skaamte
  • Selfskending, byvoorbeeld deur jouself te sny
  • Dwelm- en alkoholmisbruik in erge gevalle
  • Depressie
  • Woede
  • Skuldgevoelend
  • Vrees
  • Vrees vir aanraking
  • Magteloosheid
  • Verloor van beheer

Die stadiums van groei na herstel:

  • Om weer veilig te voel.
  • Om te onthou en te rou.
  • Om weer met ander mense kontak te maak.
  • Sorg vir jouself – eet gesond, oefen en slaap genoeg.
  • Sorg vir jouself op geestelike vlak, geestelik vir jouself. Dit help om positief te dink, en probeer om dinge te doen wat jy geniet.
  • Sluit aan by ’n ondersteuningsgroep, hoor hoe ander voel wat ook daardeur is en moenie jouself blameer nie.
  • Onthou die dinge waarin jy glo en omring jouself met positiewe mense.
  • Gee jouself genoeg tyd en ruimte om jou emosies te voel.

Moenie alleen hierdeur worstel nie – daar is hulp beskikbaar. Stap hierdie pad saam met iemand wat omgee, verstaan en hoop skep.

Soortgelyke plasings