Ramaphosa se Eskom-stappe verander niks – AfriForum


Die burgerregte-organisasie AfriForum sê pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging tydens sy staatsrede dat Eskom gedesentraliseer gaan word, is alles behalwe voldoende om die sukkelende kragreus om te keer. Volgens Ramaphosa gaan Eskom in drie afsonderlike dele verdeel word, naamlik transmissie, opwekking en verspreiding.

Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake, sê Eskom is in praktyk buitendien in hierdie drie afdelings verdeel en daarom is hierdie aankondiging niksseggend. “Ware ontbondeling beteken dat Eskom nie meer oor die monopolie op kraglewering in Suid-Afrika sal beskik nie.”
Volgens dr. Eugene Brink, AfriForum se strategiese raadgewer vir gemeenskapsake, sal Eskom nou bloot in aparte dele onder korrupte staatsbestuur wees, pleks van een groot maatskappy met dieselfde eienskappe. “Dit gee nie die mag aan gemeenskappe of enigiemand anders as die staat oor nie en is bloot ’n kosmetiese paaimiddel aan beleggers wat nie die grondoorsake van die probleme aanpak nie.”
Mostert veroordeel Ramaphosa se besluit om vir Eskom nóg staatshulp te bewillig inaggenome die grootskaalse historiese en huidige korrupsie. “Nersa gaan waarskynlik nie Eskom se tariefaansoek van 17,4% toeken nie en dit het beteken dat die bestuur van Eskom reeds by die nasionale tesourie aangeklop het. Dus gaan belastingbetalers net weer moet opdok, hetsy deur tariewe of belastings.”
“Die idee is dat Eskom al hoe minder van die staat en die belastingbetaler afhanklik moet wees. Ramaphosa se aankondiging het egter niks gedoen om dit te bewerkstellig nie,” sluit Brink af.

Soortgelyke plasings