Ramaphosa moet IMF-waarskuwing oor eiendomsreg ernstig opneem


Die burgerregte-organisasie AfriForum meen dat pres. Cyril Ramaphosa, die regering en die regerende ANC ernstige nabetragting moet doen oor hul beleidsposisies met betrekking tot die onteiening van privaat eiendom, veral in die lig van die waarskuwing wat die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) gister in hierdie verband uitgereik het.
Die IMF het verklaar dat hy optimisties is oor Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte onder pres. Ramaphosa, maar het egter gewaarsku dat die huidige debat oor grond onsekerheid oor eiendomsreg skep, wat negatiewe gevolge vir die ekonomie kan inhou.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, verduidelik dat daar baie gevallestudies is wat die Suid-Afrikaanse regering kan navolg om ekonomiese uitdagings aan te pak.

“Daar is suksesverhale soos dié van Suid-Korea, Hongkong, Singapoer en selfs Botswana. Daar is ook rampverhale soos dié van Zimbabwe, Venezuela en Noord-Korea. Wat Ramaphosa en die Suid-Afrikaanse regering in effek doen, is om met beleide wat soortgelyk aan dié van die rampverhale is te flankeer, terwyl die beleide wat tot die wêreld se grootste suksesverhale gelei het, as boos bestempel word.”

Roets verduidelik verder dat die gemeenskaplike deler in die suksesverhale die beskerming van eiendomsreg en ’n weerhouding van onnodige regeringsinmenging is. Die gemeenskaplike deler in die rampverhale daarteenoor is die skending van eiendomsreg en staatsinmenging.

Soortgelyke plasings