Ramaphosa het morele verpligting om standpunt oor plaasmoorde in te neem


President Cyril Ramaphosa is onder ’n morele verpligting om ’n sterk openbare standpunt teen plaasmoorde te neem, juis vanweë die feit dat hy die bestaan van die krisis vroeër op ’n internasionale platform ontken het. Dit is die reaksie van AfriForum nadat Khusela Diko, die president se woordvoerder, gister aan die media gesê het dat die president hom spesifiek nié oor plaasmoorde gaan uitspreek nie, omdat dit die verantwoordelikheid van die polisie is.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die president se verskoning glad nie sin maak nie.

“Die president het hom al voorheen oor plaasmoorde uitgespreek. Toe hy dit gedoen het, het hy gesê dat daar geen plaasmoorde in Suid-Afrika is nie. Nou dat hy met die syfers gekonfronteer word, is sy antwoord dat dit nie sy plek is om hom daaroor uit te spreek nie en dat hy eerder gaan swyg. Dit is beledigend, om dit lig te stel.”

Roets het verwys na Ramaphosa se besoek aan die VSA in September 2018 en sy uitspraak op die 26ste van dié maand, tydens ’n media-onderhoud met Bloomberg, dat daar geen plaasmoorde en geen grondgrype in Suid-Afrika is nie. AfriForum het gister die jongste statistiek vir plaasaanvalle en -moorde sedert die begin van 2019 tot en met die einde van Mei uitgereik. In hierdie tydperk kon AfriForum 184 plaasaanvalle en 20 plaasmoorde staaf.

Soortgelyke plasings