| | |

Ramaphosa in debat oor staatsrede gekap oor Eskom

Opposisiepartye het pres. Cyril Ramaphosa vandag in die parlement in die debat oor sy staatsrede op verskeie aspekte van sy staatrede, soos die reddingsboei vir Eskom, gekap.

Ramaphosa het verlede week tydens sy staatsrede aangekondig dat Eskom ’n reddingsboei van R230 miljard oor die volgende vyf jaar sal kry.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het gesê staatsentiteite moet herbou word. Eskom moet opgedeel word en onafhanklike kragvoorsieners moet by die kragnetwerk ingesluit word. “Ons benodig verander en hervorming. Verkoop daarom ook die SAL en herstel die treine in die land.”

Julius Malema, leier van die EFF, het gesê Ramaphosa is ’n president sonder ’n plan. Hy meen Ramaphosa kan nie die land uit sy krisis wat armoede en werkloosheid insluit, red nie.

Malema het op die grondkwessie gehamer en gesê die mense gaan in opstand kom as daar nie onteiening sonder vergoeding is nie.

Hy het ook na Ramaphosa se verwysing na Eskom verwys asook sy pleidooi dat swart mense vir elektrisiteit moet betaal. Malema meen egter dis Ramaphosa se plig om die regte besluite te neem wat die ekonomie sal laat groei.

Mangosuthu Buthelezi van die IVF het gesê die land kan nie die verskillende reddingsboeie van staatsentiteite bekostig nie en daar is ernstige vrae oor hoekom daar so lank gesloer is om in te gryp by Eskom en baie onlangs ook die SAUK.

Ook AfriForum is van mening dat die regering se hantering van staatsentiteite nie tot ekonomiese vooruitgang en ontwikkeling lei nie.

AfriForum is ook besorg oor tariefverhogings wat die Tshwane-metroraad onlangs goedgekeur het. In die begrotingsrede is ’n voorgestelde tariefverhoging van 12% vir elektrisiteit aangekondig. Dit val onder die 13,8% soos Nersa se voorgestelde riglyn. Wat egter vir AfriForum ’n probleem is, is die R200 basiese tarief wat enige kragverbruiker moet betaal voordat enige elektrisiteit gebruik word en ook die nuwe kategorisering van die tarief. Die R200 basiese tarief sal tot gevolg hê dat die 13,8%-verhoging, soos voorgestel deur Nersa, heeltemal oorskry word.

AfriForum meen die R200 basiese tariefheffing deur die munisipaliteit is heeltemal buitensporig en daar moet aan die gemeenskap verduidelik word waarom hierdie las op gemeenskappe geplaas word.

AfriForum meen dat die metroraad op ’n slinkse wyse ’n manier gekry het om verbruikers veel meer te laat opdok as die toegelate 13,8%. Nersa word volgens wet verplig om openbare deelnameprosesse te hou as die tarief met meer as 13,8% verhoog word. Die feit dat die munisipaliteit die aankondiging gemaak het slegs 11 dae voor die implementering van die nuwe verhoging is volgens AfriForum ’n taktiek om te verhoed dat die publiek deelname aan dié proses gegun word.

Die voorgestelde tarief is ook op so ’n manier opgestel dat verbruikers wat minder krag gebruik, meer sal moet betaal. Die munisipaliteit moedig dus kragverbruikers aan om meer krag te gebruik sodat die verhoging ’n kleiner impak op hulle sal hê. As ’n mens die huidige toestand waarin Eskom verkeer in gedagte hou, is die munisipaliteit veronderstel om kragverbruikers eerder aan te moedig om spaarsaam te wees en minder krag te gebruik. Dít is egter nie die geval nie. AfriForum sal voortgaan om druk op Nersa uit te oefen om nie die nuwe voorgestelde tariefverhoging te implementeer nie en sal ook met hul regspan konsulteer.

Soortgelyke plasings