Ramaphosa appelleer teen hofbeslissing oor Zuma en SAOG-tribunaal


In ’n skokkende wending het die staatsprokureur vandag kennis gegee van president Cyril Ramaphosa se voorneme om te appelleer teen ’n volbankbeslissing van die Gautengse Afdeling van die Hooggeregshof in Pretoria dat voormalige president Jacob Zuma onregmatig en ongrondwetlik opgetree het in sy deelname aan die proses om ’n menseregtehof vir die SAOG-streek, bekend as die SAOG-tribunaal, te ontbind.
Die Prokureursorde van Suid-Afrika en ses Zimbabwiese boere het suksesvol aansoek gedoen vir die geregtelike hersiening van oudpresident Jacob Zuma se ondersteuning van en deelname aan die proses om die SAOG-tribunaal te ontbind. Dié aansoek is gebring omdat die ontbinding van die Tribunaal burgers van die SAOG-streek van die reg ontneem het om hulle op ’n streeksmenseregtehof te beroep indien hul regte in hul eie land misken word. Die ses Zimbabwiese boere is deur AfriForum bygestaan.

“President Ramaphosa se besluit om teen die beslissing te appelleer, kom as ’n skok omdat die algemene verwagting was dat die Ramaphosa-administrasie ’n groter premie op die oppergesag van die reg sou plaas as wat sy voorganger gedoen het,” sê Willie Spies, AfriForum-woordvoerder en -regsverteenwoordiger.

Die hoofregter sal binnekort direktiewe oor die aansoek om verlof tot appèl uitreik, asook die ses boere se aansoek om bekragtiging van die hofaansoek.

Soortgelyke plasings