|

Radio Pretoria sprei sy vlerke

Deur Jhua-nine Wyrley-Birch

Verander van kleur, maar nie van geur.
Só lui die nuwe bemarkingsboodskap van Pretoria FM, die gewese Radio Pretoria.
Die radiostasie is vandag op luisterryke wyse in die hoofstad by die Atterbury Teater in die ooste van die Jakarandastad herbekendgestel.
“Pretoria FM is nuut, maar steeds bekend en is deel van die visie om die voorste gemeenskapsradio vir Afrikaanse luisteraars te wees”, sê Willie Spies, besturende direkteur van Pretoria FM. “Dit is vir ons belangrik om die gemeenskap betrokke te hou en nie net ’n radio stasie vir ’n munisipale gebied te wees nie.”

Pretoria FM spog met ’n nuwe kleurvolle gevoel, met koel skakerings van blou en ’n vrolike verkleurmannetjie as die logo. “Pretoria FM bied dieselfde puik luistergenot, maar net beter as ooit tevore” sê Spies oor dié nuwe jassie van die gewese Radio Pretoria.
Pretoria FM spog tans met twee MTN Radiotoekennings wat “radio stasie met die mees lojale luisteraars” asook “stasie met die meeste stemme in ’n SMS-stemming” insluit.
Pretoria FM het in sy verstigingsjare geveg vir sy plek en het gegroei van ‘n struggle-radiostaie tot ‘n toekomsradiostasie. Na die 1994-verkiesing was Pretoria FM (toe nog Radio Pretoria) vir ‘n volle jaar stilgemaak in die tydperk wat die nuwe regering gebruik het om wetgewing te aanvaar wat vir gemeenskapsradiostasies voorsiening sou maak. ‘n Jaar daarna was Pretoria FM terug op die lug en het dit geen planne gehad o weer stil te wees nie.
Die herbekendstelling het musikante, akteurs, die jeug asook ander media-kenners gelok. Die musikant Johan van Rensburg het gesê dat hy baie opgewonde is om na Pretoria FM te luister. “Hierdie stasie het nog altyd musiek gespeel en die taal gepraat waarvoor ek so lief is,” het hy gesê.
“Hierdie herbekenstelling van Radio Pretoria na Pretoria FM gee Afrikaans die geleentheid om verder te groei en te bewys ons taal gaan net groter word,” meen hy.
Werner Beineke, ‘n student van die Universiteit van Pretoria verduidelik dat die jeug ook opgewonde is oor Pretoria FM. “Ek het grootgeword met hierdie radiostasie en sien uit om te hoor wat die toekoms vir my as luisteraar inhou.”
Tydens die bekendstelling van die “ikoniese” radiostasie, is ook verwys na ander “ikone” wat diep spore in die geskiedenis van die stad geloop het of net eie aan die naam Pretoria is.
In videobeelde is hulde gebring aan die Voortrekkermonument, Loftus Versfeld, die Jakaranda-bome, die Magaliesberge, die opera-diva Mimi Coertse, die krieketsensasie AB de Villiers en die stasie wat in 1993 onder moeilike omstandighede onder die omroeper Johannes van der Walt (Vaalseun) die eerste keer oor die senders gehoor is. Sy eerste woorde was: “Dis Pretoria wat omroep – die stasie te velde!”
Spies het gesê Pretoria FM poog om te groei as gemeenskapsradio, en “met die ondersteuning van duisende lojale luisteraars is ons in staat om ‘n toekoms te bou waarin ons gemeenskap voorspoedig kan groei in Afrikaans”, het Spies gesê.
Pretoria FM se slagspreuk is dus nie verniet nie: Hoop, glo en leef in Afrikaans!!

Soortgelyke plasings