Radikale groepe terroriseer Hermanus – AfriForum-buurtwag op bystand


Die Wes-Kaapse kusdorp Hermanus word die afgelope paar maande deur protesoptrede geteister. Optogte is aanvanklik ontketen deur ontevrede erfbewoners van Zwelihle aan wie die munisipaliteit sedert 1998 behuising beloof. Die krisis is opgelos nadat ’n ooreenkoms bereik is ná verskeie onderhandelinge tussen die munisipaliteit en belangegroepe.
Onluste het egter ongeveer drie weke gelede weer opgevlam nadat ’n radikale groep van ongeveer 200 ondersteuners van Gqobani Ndzongana, ’n werknemer van die departement van korrektiewe dienste, die inwoners van Zwelihle begin terroriseer het. Wonings en geboue in Zwelihle word geplunder en inwoners word verhinder om Zwelihle te verlaat om te gaan werk. Dié groep probeer daagliks om Hermanus binne te vaar, maar word deur die SAPD gestuit. Gcobani Ndzongana en ongeveer 40 ander oproermakers is sedert verlede week in aanhouding en betogers eis hul vrylating. Helen Zille, Wes-Kaapse premier, het Hermanus op Vrydag, 13 Julie besoek, maar is ná ’n poging om met die groep te praat met klippe bestook.

“Die situasie in Hermanus is ’n duidelike poging deur ’n klein radikale groep om die politieke bestel in Hermanus – en uiteindelik die Wes-Kaap – te destabiliseer. Dit is onaanvaarbaar dat ’n klein groep radikales ’n inwonertal van 35 000 mense in Zwelihle gevange hou. Dit is tyd dat die gemeenskap van Zwelihle opstaan, oproermakers isoleer en beheer van hul woongebied terugneem. Die oplossing lê nie by politici of die SAPD nie, maar by die gemeenskap self,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se opleidingsbestuurder van gemeenskapsveiligheid, en ’n inwoner van Hermanus.

Sowat 230 Wes-Kaapse SAPD-lede is sedert Maandag, 9 Julie in Hermanus ontplooi.

“AfriForum se Overstrand-tak het buurtwaglede in nabygeleë woonbuurte ontplooi om die SAPD by te staan en te keer dat oproermakers hul woongebiede binnedring. Die buurtwagte is van groot hulp vir die SAPD en ’n bewys van die waarde wat ’n goed opgeleide en georganiseerde buurtwag tot só situasie kan toevoeg,” sê Elmarie van Dalen, AfriForum se Overstrand-takvoorsitter en ondervoorsitter van die Hermanus-gemeenskappolisiëringsforum.

Polisieminister Bheki Cele, adv. Lennit Max en Helen Zille gaan Hermanus op Vrydag, 20 Julie besoek in ’n poging om met die gemeenskap van Zwelihle te beraadslaag.
Sluit vandag by AfriForum aan om ’n verskil te maak. SMS “Veilig” na 45265 (R1).

Soortgelyke plasings