|

BOELIEGEDRAG EN SELFDOOD NEEM TOE

Deur Leandie Bräsler

Ons is in Mei van 2021 en die winter is behoorlik hier. Nie net omdat ’n kouefront die land tref of ’n COVID-19-pandemie sy kop hoog uitsteek nie. Hierdie twee dinge gee mens koue rillings, maar daar is ’n groter pandemie wat ons land en die res van die wêreld tref: die toename van afknouery, geweld en selfdood onder ons jeug en in skole.

In April 2021 is die graad 10-leerder, Lufuno, van Limpopo oorlede nadat sy geboelie is en ’n video daarvan op sosiale media versprei is – #JusticeForLufuno was die nommereen-hutsmerk op Twitter. In Mei 2021 is ’n onderwyser in Noordwes vermoedelik deur ’n vriendin met ’n mes voor die leerders gesteek. In dieselfde maand is die hoof van Laerskool Theresapark letterlik uit die skool gegooi en op spesiale verlof geplaas weens afknouery en finansiële wanbestuur.

Ek vra myself gereeld af: “Waarom? Waarom moet daar nóg ’n kind geboelie word? Waarom moet daar nog ’n kind sy eie lewe neem? Waarom moet daar nog ’n kind fisies seerkry? Hoekom neem kuberafknouery toe?” Daar is egter ’n legio redes vir en antwoorde op al hierdie vrae. Elke kind, skool, ouer en onderwyser se situasie verskil, asook die redes waarom dit gebeur.

Baie kinders se emosionele welstand ly onder COVID-19. Die inperking het veroorsaak dat kinders nie skool toe kon gaan nie en hulle kon dus nie met ander sosialiseer nie. Die enigste manier hoe hulle wel met ander en hul maats in kontak kon kom, was deur die internet, sosiale media of op hul selfone. Dit veroorsaak ook dat daar ’n styging is in voorvalle wat kuberafknouery behels. Vir ander kinders is die skool weer ’n ontvlugting van huishoudelike geweld en hulle moes deur daardie tyd ekstra druk en spanning ervaar.

In September 2020 het AfriForum ’n kort dokumentêr van die 12-jarige Herman Odendaal van Kestell in die Vrystaat bekendgestel ter bewusmaking van afknouery en selfdood. Herman het homself opgehang nadat hy lank geboelie is en COVID-19 het bygedra tot hierdie tragiese gebeurtenis. Kyk gerus die kort dokumentêr hier: https://www.youtube.com/watch?v=_dgg9Yg07JA&t=9s. Herman se ouers wil ander ouers aanspoor om in te gryp voordat dit te laat is.

Wat om te doen?

Dit help ook nie dat Panyaza Lesufi, die LUR vir Onderwys in Gauteng, net by skole opdaag of hulle veroordeel nadat die boelievoorvalle of die selfdoodgevalle reeds plaasgevind het nie. Nee, dit is dan reeds te laat. Die enigste manier hoe die Departement van Basiese Onderwys daadwerklik ’n verskil kan maak is om leerders, ouers, onderwysers en beheerliggame met die nodige kennis en vaardighede toe te rus om afknouery hok te slaan. Alle partye moet geleer word om proaktief op te tree sodat afknouery gekeer kan word voordat dit te laat is. Daar is te veel skole waar AfriForum al besoek afgelê het wat nie weet hoe om afknouery te hanteer nie. Daar is te veel leerders en ouers wat nog nie weet wat die verskil tussen afknouery en konflik is nie. Daar is te veel mense wat nie die noodsaaklikheid raaksien om oor selfdood in skole te gesels nie, want dit word gesien as ’n taboe-onderwerp.

AfriForum doen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om ook bewese selfdoodvoorkomingstrategieë op ’n volhoubare wyse in nasionale gesondheids- en opvoedingsprogramme op te neem. Selfdoodvoorkoming en -intervensie is noodsaaklik binne enige geestesgesondheidsprogram en dit moet ’n hele benadering behels wat bewusmaking en opleiding vir personeel en leerders insluit. Dit is oukei om nie oukei te wees nie. Daar is ’n uitweg, daar is hoop en daar is hulp beskikbaar. Hoe meer ons openlik oor selfdood praat, hoe makliker en vinniger gaan ons die stigma rondom selfdood vernietig.

Vir meer inligting rondom selfdood, gaan lees gerus Gerhard Nieuwoudt se blogs:

Bietjie meer oor AfriForum se teenboelieveldtog

AfriForum se teenboelieveldtogspan skep sedert 2017 bewustheid, en byna 100 skole regoor die land is reeds toegespreek oor afknouery en die impak daarvan.

Afknouery is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind, spesifiek waar daar ’n wanbalans van mag voorkom.

  • Afknouery is ’n wêreldwye probleem en Suid-Afrika is beslis geen uitsondering nie.
  • Volgens ’n Unesco-verslag word bykans 250 miljoen kinders en jongmense jaarliks wêreldwyd afgeknou.
  • 25% van Suid-Afrika se ouers beweer dat hulle kind al ’n slagoffer van afknouery of afknouery was.
  • In 2018 het ’n studie, waaraan ongeveer 21 000 mense van 28 verskillende lande deelgeneem het, bevind dat Suid-Afrika die hoogste voorkoms van kuberafknouvoorvalle het.
  • Meer as die helfte (54%) van Suid-Afrika se ouers weet dat ’n kind in hulle gemeenskap kuberafknouery ervaar.

Kuberafknouery word gedefinieer as die optrede waardeur iemand geteister, verneder, gedreig of in die verleentheid gestel word deur elektroniese metodes, soos blitsboodskappe, e-posse of sosiale media.

Ander vorme van afknouery sluit in fisiese, verbale en emosionele afknouery.

AfriForum se teenboelieveldtog fokus op die boeliedriehoek –die driehoek van teistering, naamlik die boelie, die slagoffer en die omstanders – en beoog om leerders in al drie hierdie kategorieë toe te rus met die nodige vaardighede en kennis om afknouery hok te slaan.

AfriForum doen ’n beroep op ouers en onderwysers om proaktief op te tree. Dit is jou werk as ouer om ’n oog oor jou kinders te hou en na hulle te luister. Wees bewus! Dit is belangrik om na ons kinders se geestelike welstand om te sien; hulle is immers die leiers van die toekoms.

Vir meer inligting rondom AfriForum se teenboelie-en-selfdoodbewusmakingsveldtog, besoek www.teenboelie.co.za en laai ons teenboeliegids gratis af.

Hopelik kan ons saam as ’n land en saam met ons skole en gemeenskappe hierdie pandemie van skolegeweld, afknouery en selfdood bekamp.

Soortgelyke plasings