Spyskaart +

Raad en daad vir boelies: Oorsake van afknouery in skole

Junie 26, 2017 deur Admin

Skoolgeweld en afknouery kan ’n invloed op enige kind uitoefen. Een van die vernaamste faktore wat van kinders en adolessente ’n teiken van afknouery maak is as hulle as “anders” beskou word.

Voorbeelde van andersheid sluit die volgende in: kinders wat wees gelaat word, kinders met gestremdhede, sosiale status wat met etnisiteit geassosieer word, kinders in huishoudings waar MIV/Vigs, armoede en kulturele en taalverskille voorkom, asook kinders wat aan migrasie of verplasing blootgestel word. Volgens ’n Unesco-verslag kan fisiese voorkoms ook as risiko dien vir kinders of adolessente om ’n teiken van afknouery te word, soos byvoorbeeld om oorgewig of selfs ondergewig te wees.

Skole is veronderstel om ’n veilige hawe vir kinders te wees waar hulle nooit hoef te vrees om op die skoolterrein of speelgronde te beweeg nie – waar niemand vir hulle wag om hul lewe te versuur nie. Selfs al is dit die geval moet kinders kan huis toe gaan met ’n goeie gemoed waar hulle van die dag se drama by die skool kan vergeet. Ongelukkig werk dinge egter nie altyd uit soos ’n mens hoop nie. Met die toename in internetgebruikers kan al hoe meer kinders by hulle sosialemediarekeninge inteken en sodoende uitvind indien iemand van hulle skool iets vernederend oor hulle gepubliseer het. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die geval van die 14-jarige Bloemfonteinse meisie wat deur twee seuns verkrag is terwyl ’n derde seun ’n video-opname daarvan gemaak het. Hierdie voorval kan as seksuele afknouery, asook kuberafknouery beskou word. Die berig daarvan is beskikbaar by http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/hoerskoolseuns-verkrag-glo-meisie-14-op-video/.

Die meeste kinders besef dat boeliegedrag ander kan seermaak. So waarom sal een kind dan ’n ander kind wil boelie? Moet ouers, onderwysers en skooladministrateurs nie uitvind waarom sommige kinders dit nodig ag om ander te boelie nie? Daar is absoluut geen verskoning vir iemand om ander te teister, te martel of te verneder nie, maar die meeste boelies het onderliggende kwessies wat hulle tot hierdie tipe gedrag – boeliegedrag – dwing. Populariteit en mag kan as uiters belangrik deur boelies beskou word, daarom laat hulle hul toorn op slagoffers los wat gesien word as leerders wat nie so “goed”, “sterk” of “mooi” soos hulle is nie. Boelies sal nooit iemand aanvat wie hulle weet teen hulle sal opstaan nie. Om die algemene oorsake van afknouery te verstaan, is dit belangrik om te weet wat die eienskappe van slagoffers van boeliegedrag is.

In die meeste gevalle is slagoffers:

  • Ongewild/nie so populêr soos die boelie nie;
  • Van ’n ander ras of geloof;
  • Homoseksueel;
  • Swaksiende en dra dus bril;
  • Van ’n ander sosio-ekonomiese agtergrond; en
  • Gestremd

Hoewel boelies selfversekerd voorkom, is hulle eintlik onseker oor hulleself en kan hulle ook minderwaardig teenoor ander voel. Wanneer hulle ander leerders sleg behandel, is dit ’n manier om hulle beter oor hulself te laat voel en hulle gebruik dit as ’n hanteermeganisme. Om die gevoel van mag en status te behou, moet die oortreder dus voortgaan met hierdie tipe gedrag.

Vyf algemene oorsake van afknouery:

  1. Boelies kom uit wanfunksionele gesinne: ’n Wanfunksionele gesin waarborg geensins dat ’n kind in ’n boelie sal ontaard nie, hoewel meeste boelies uit huise afkomstig is waar daar min of geen liefde of eerlikheid is nie. Hulle neem ook op ’n gereelde basis waar hoe hulle ouers aggressief teenoor hul vriende, broers/susters of ander familielede optree.
  2. Boelies moet in beheer wees: Kinders wat ander kinders rondstamp of slaan streef daarna om populêr te wees of mag te hê. Hulle vind dit bevredigend indien ander kinders hulle aan hulle onderwerp. Hierdie tipe kinders is impulsief en hardkoppig en floreer wanneer hulle slagoffers bang is in hulle teenwoordigheid.
  3. Boeliegedrag word beloon: Die meeste kinders doen nie hierdie opsetlik nie, hoewel die oortreder per ongeluk beloon word wanneer die slagoffer opgee, soos byvoorbeeld om hulle snoepiegeld of besittings vir die boelie te gee. Hulle word dus ook beloon omdat hulle meer aandag kry deur ander te boelie en sodoende word hulle meer populêr of kry hulle meer mag omdat ander kinders vir hulle bang is. Hierdie beloning wat onbedoeld plaasvind het tot gevolg dat boeliegedrag versterk word en dit kan die oortreder aanmoedig om ander kinders ook te boelie.
  4. Boelies neem nie ander se gevoelens in ag nie: Sommige kinders het min of geen empatie nie, of hulle vind vreugde daarin om te sien hoe ander kinders ly. Wanneer hulle iemand seermaak, weet hulle geensins wat die slagoffer of die ander kinders om hulle voel nie. Soms kan die oortreder selfs plesier daarin vind om ’n ander kind seer te maak. Die reaksie van die slagoffer kan die boelie ’n gevoel van vervulling gee en daarom sal hy dus aanhou met hierdie tipe gedrag.
  5. Boelies kan nie hulle emosies reguleer nie: Wanneer kinders geïrriteerd of kwaad raak kan hulle hulself gewoonlik stop om dinge te doen wat ander kinders moontlik kan seermaak. Wanneer kinders nie die vermoë het om hulle emosies te reguleer nie kan klein struikelblokke/irritasies veroorsaak dat hulle oorreageer en dan heeltemal beheer oor ’n situasie verloor. ’n Voorbeeld hiervan is wanneer ’n kind onskuldig in die gange van die skool loop en dan per ongeluk teen ’n boelie vasloop. Selfs al vra die kind om verskoning kan die boelie sy humeur verloor en die ander kind slaan.

Afknouery in skole is tans ’n groot probleem en iets wat deel van die samelewing sal bly indien ouers, onderwysers en ander rolspelers nie die oorsake van boeliegedrag identifiseer nie. Met die korrekte hulpbronne en leiding kan kinders die regte hulpmiddele ontvang wat hulle benodig om konflik te hanteer, in stede daarvan om dit te hanteer deur ander te boelie.

Bronnelys:

No Bullying. 2016. Common Causes of Bullying. Beskikbaar by: https://nobullying.com/common-causes-of-bullying/. (Toegang: 4 April 2017.)

Unesco. 2017. School Violence and Bullying: Global Status Report. Parys, Frankryk: Unesco.

  • Deur Leandie Lombaard