|

R50 000 vir plaasaanvalslagoffers ingesamel tydens #HardloopVirHoop in die Wes-Kaap

 

Ons wil deur die #HardloopVirHoop-inisiatief nie net bewusmaking oor plaasaanvalle en ‑moorde skep nie, maar ook die erns van die trauma wat met hierdie gruwelmisdade gepaardgaan, aan die publiek verduidelik.

Só sê Bennie Roux, ultramaratonatleet van Pretoria, wat die afgelope naweek sowat 125 km kilometer per fiets in die Wes-Kaap afgelê het as deel van AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid se #HardloopVirHoop-projek.

Die projek is in 2019 van stapel gestuur toe Roux en vyf ander atlete van Villiers tot Fouriesburg in die Vrystaat (sowat 220 km) gehardloop het om bewusmaking vir plaasmoorde te skep. Gemeenskappe het hul harte en beursies oopgemaak om dié inisiatief te ondersteun.

Die Trauma-ondersteuningseenheid lewer ’n baie unieke, persoonlike diens aan slagoffers van geweldmisdaad, veral slagoffers van plaasaanvalle. Die eenheid is in 2015 gestig en het sedertdien uitgebrei weens die toename in misdaad en veral plaasaanvalle. Hulle het tot dusver al byna 250 mense ondersteun.

Die geld wat ingesamel word, word gebruik om berading en bystand aan slagoffers te verleen tydens hofsake, asook om in enige ander dringende en onmiddellike behoeftes soos kos en medisyne te voorsien.

Roux en die Trauma-ondersteuningseenheid het ook as deel van die #HardloopvirHoop-veldtog plase en slagoffers van plaasaanvalle in die Oos-Vrystaat besoek.

Die Trauma-ondersteuningseenheid gaan later vanjaar hul veldtog in Noordwes voortsit.

Besoek www.virhoop.co.za vir meer inligting oor hoe jy dié veldtog kan ondersteun.

 

Soortgelyke plasings