|

Pukke knap M.W. Pretorius se graf op

AfriForum Jeug se Pukke-tak het ingegryp en die graf van Marthinus Wessel Pretorius in Potchefstroom skoongemaak.

Volgens Ohann Fourie, nasionale koördineerder van kampusstrukture by AfriForum Jeug, was dié graf, wat in die oorlogsbegraafplaas in Potchefstroom is, onversorg en baie verwaarloos.

Dié jeugtak het die graf in samewerking met mnr. Johan Wolfaardt, ’n museumkundige en die kurator van die President M.W. Pretorius huismuseum in Potchefstroom, opgeknap.

“Die jeugtak meen Potchefstroom het  ʼn ryk erfenis en die instandhouding van erfenisterreine lê hulle baie na aan die hart,” sê Fourie.

“Die bewaring van erfenisgebiede is belangrik vir ons nageslagte. AfriForum Jeug glo dit is die jeug se verantwoordelikheid om erfenis te bewaar en dit aan ander oor te dra. Dit word nie meer in skole geleer nie, so ons skep die platform vir jongmense om hulle eie helde te ontdek en hulle geskiedenis wat daarmee gepaard gaan te koester.”

Marthinus Wessel Pretorius is op 17 September 1819 in Graaff-Reinet gebore en op 19 Mei 1901 in Potchefstroom) oorlede. Hy was die eerste President van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Hy het ook die Grondwet van die Republiek opgestel en die stad Pretoria gestig en dit na sy vader, die Voortrekkerleier Andries Pretorius, genoem.

Pretorius was die laaste staatshoof van Potchefstroom tussen 1853 en 1856. Hy het daarna gedien as die eerste president van die ZAR van 1857 tot 1860, en weer van 1864 tot 1871. Hy het ook gedien as die president van die Oranje-Vrystaat van 1859 tot 1863. Hy het voorts as mede-staatshoof van die Transvaal gedien van 1880 tot 1883 as deel van die Driemanskap. Paul Kruger en Piet Joubert was die ander twee lede.

AfriForum Jeug gaan deur die loop van die jaar soortgelyke projekte aanpak wat op die skoonmaak en instandhouding van omgewings- en erfenisterreine fokus.

*Lidmaatskap by AfriForum Jeug is gratis en enigiemand wat met AfriForum Jeug se beleid saamstem, mag aansluit.

Soortgelyke plasings