|

Puk slaan studiebeurs los

photo (2)

Alexa Kellner, ʼn tweedejaar- Bcom (Rek)-student aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom kampus, is gister aangewys as die derde wenner van AfriForum Jeug se studiebeurskompetisie.

As deel van hul nasionale veldtog om Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite te behou, het dié jeugorganisasie vanjaar ’n kompetisie geloods waar vier studente elk ’n studiebeurs ter waarde van R20 000 kan wen.

AfriForum Jeug het gesê hulle wil met dié kompetisie studente wat in hul moedertaal Afrikaans studeer, beloon en hul verder aanmoedig om hul studies in dié taal voort te sit.

Alexa het aan Forum Nuus gesê dat sy ingeskryf het omdat sy graag wil aanhou studeer in haar moedertaal.

“Hoewel ek nie sukkel om my handboeke se inhoud te verstaan en vertaal nie, het ek besluit om in Afrikaans te studeer omdat ek die rekenkundige terminologie beter verstaan en meer selfvertroue het in my werk as ek dit in Afrikaans kan doen.”

Sy is ook van mening dat Afrikaans as taal beskerm moet word omdat Suid-Afrika die enigste land is waar dit ʼn erkende taal is. “Daar sal ʼn toekoms vir Afrikaans in ons land wees as ons as jongmense aanhou veg en ʼn toekoms daarvoor skep,” het Alexa gesê.

Die Afrikaanse sanggroep SAARKIE het tydens die beursaankondiging vir vermaak gesorg en het ook hul steun vir AfriForum Jeug se inisiatiewe teenoor moedertaalonderrig uitgespreek.

Volgens Lourene Mostert, ʼn lid van dié sanggroep, speel die jeug ʼn groot rol vir die behoud van Afrikaans.

“Dit hang van jongmense af om die taal suiwer en lewendig te hou,” het sy aan Forum Nuus gesê.

AfriForum Jeug het verlede maand die eerste twee wenners by die Universiteit van Stellenbosch (US) en die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangekondig en sal in die komende weke nog een wenner by die Universiteit van Pretoria (UP) bekend maak.

UP-studente wat nog nie ingeskryf het nie, kan hul naam en kampusnaam na 32687 SMS. SMS’e kos R1.

Soortgelyke plasings