Publiek verdien die waarheid oor oorsaak van die Knysna-brand


7 Junie 2019 is die tweede herdenking van die Knysna-brande, wat groot verwoesting – insluitend lewensverlies – in Knysna en die omliggende gebiede veroorsaak het.

Direk ná afloop van die brand het AfriForum Helen Zille, voormalige Wes-Kaapse premier, se toestemming versoek om die brande onafhanklik te ondersoek. Die versoek is toegestaan en AfriForum het die forensiese wetenskaplike dr David Klatzow genader om al die brande – en spesifiek die brand in Elandskraal – te ondersoek.
Die Klatzow-verslag oor die Elandskraal-brand en ’n verslag wat Clinton Manuel, ’n voormalige brandweerhoof van die Knysna Munisipaliteit, daaroor saamgestel het, was egter teenstrydig oor die oorsprong en oorsaak van brand. Dít het daartoe gelei dat die WNNR, wie se data verkeerdelik en sonder die nodige toestemming deur Manuel gebruik is, ook die brande ondersoek het. Die WNNR het uiteindelik hul eie verslag oor die oosprong en oorsaak van die brand saamgestel, wat bevestig dat die Klatzow-verslag korrek is en die Manuel-verslag foutief.
Volgens die Klatzow-verslag het weerlig die brand op 12 April 2017 veroorsaak, terwyl die Manuel-verslag dit aan brandstigting toegeskryf het. ’n Google Earth-foto wat op 20 April 2017 geneem is en by die Klatzow-verslag ingesluit is, bevestig dat die westelike Knysna-brand op die plaas Elandskraal naby die Karatara-rivier ontstaan het. Luidens die Klatzow-verslag het dié vuur vir weke lank gesmeul, waarna dit versprei het tot die brande wat op 7 Junie 2017 in en om Knysna begin woed het.

“AfriForum sal dit verwelkom as die Knysna Munisipaliteit homself amptelik van die Clinton Manuel-verslag distansieer, met spesifieke verwysing na die foutiewe aanduiding oor die oorsprong en die oorsaak van die Elandskraal-brand. Ons vertrou ook dat die munisipaliteit ’n interne ondersoek sal loods oor waarom die Knysna- en Sedgefield-brandweer besluit het om die smeulende Elandskraal-brand te ignoreer,” sê Reint Dykema, kennisbestuurder van AfriForum, wat namens AfriForum die brande saam met Klatzow ondersoek het.

Klik hier om die volledige Klatzow-verslag oor Knysna-brande af te laai.

Soortgelyke plasings