Projek Nehemia

  • Wat is Projek Nehemia?

Projek Nehemia is ’n projek met die doel om die veiligheid, vrede, voorspoed en selfbehoud van weerlose mense en minderheidsgroepe in Suid-Afrika te verseker deur daadwerklik tot die doeltreffende bekamping van geweldsmisdaad by te dra. Daarmee saam integreer dié projek verskillende gemeenskappe en veiligheidstrukture om saam geweldsmisdaad te bekamp en sodoende meer druk op die regering te plaas om op te tree teen misdaad.

  • Oorsprong van Projek Nehemia:

Daar is besluit dat die regering en ander staatsorgane (soos die polisie) nie vir ons mense voldoende beskerming teen misdaad bied nie – die onlangse Coligny-tragedie is ’n goeie voorbeeld hiervan. Met Roland de Vries se betrokkenheid by AfriForum vanaf Oktober 2016, saam met Ian Cameron, is daar besluit om ’n gemeenskapstrategie vir die gemeenskap te ontwikkel in die stryd teen geweldsmisdaad. Daar is toe besluit op die projeknaam Nehemia, aangesien dit absoluut van pas is. Nehemia van die Bybelse faam het die mure van Jerusalem laat herbou met die doel om hoop en vertroue te skep. Dit is wat nou beoog word met die stryd teen geweldsmisdaad.

  • Wie is Projek Nehemia?

Die sentrale punt van die projek is die gemeenskap. AfriForum vervul dus die koördineringsfunksie tussen verskillende gemeenskappe en strukture.

  • Waar word Projek Nehemia uitgevoer?

Projek Nehemia se toetsfase gaan in Bloemfontein van stapel gestuur word, vanwaar dit dan na alle gemeenskappe in Suid-Afrika uitgebrei gaan word. Dit is die skepping en aanwending van ’n geïntegreerde vermoë om geweldsmisdaad doeltreffend te beveg, wat landwyd uit voltydse, deeltydse en vrywillige komponente sal bestaan.

  • Wat is die doel van Projek Nehemia?

Projek Nehemia is gebaseer op die volgende vier doelstellings:

  • Doelstelling 1: Om ’n geïntegreerde operasionele vermoë te skep wat doeltreffend tot die bekamping van geweldsmisdaad in Suid-Afrika sal bydra.
  • Doelstelling 2: Om ’n nasionale gemeenskapsveiligheidstelsel (NGVS) in ooreenstemming met gemeenskapspolisiëringswetgewing tot stand te bring wat die doeltreffende bekamping van geweldsmisdaad strategies sal rig en ondersteun.
  • Doelstelling 3: Om nasionale bewustheid teen geweldsmisdaad te skep en te verseker deur eerstens groter positiewe, aktiewe gemeenskapsbetrokkenheid te verkry; en tweedens die regering en staatsdepartemente soos die polisie se daadwerklike toetrede tot die stryd teen misdaad, armoede en werkloosheid te bevorder.
  • Doelstelling 4: Om nasionale en internasionale steun te werf vir meer doeltreffende bekamping van geweldsmisdaad in Suid-Afrika deur privaat instansies en om die regering tot beter landsbestuur en die bekamping van geweldsmisdaad aan te spoor.

Daar word ook beoog dat nasionale bewustheidskepping en doelgerigte samewerking van gemeenskappe teen geweldsmisdaad ’n kragtige invloed op die regering moet uitoefen om daadwerklik teen geweldsmisdaad op te tree. Dit moet die aanvullende uitwerking hê om die regering tot meer doeltreffende landsbestuur aan te spoor en om die belange en veiligheid van minderheidsgroepe op ’n sigbare en meetbare wyse te verseker. Dit beteken die integrasie van pogings van alle belangegroepe en die gemeenskap teen landwye geweldsmisdaad, wat deur gemeenskapspolisiëringswetgewing onderskraag word.

  • Hoe kan ek betrokke raak?

SMS “Buurtwag” na 45353 (R1) om aan te sluit.

Stuur ’n e-pos na veiligheid@afriforum.co.za om betrokke te raak by jou plaaslike buurtwag.

Hou AfriForum se sosiale media dop vir die jongste nuus.

www.afriforum.co.za

Word ook deel van ons AfriForum Veiligheid Facebook-groep.

Soortgelyke plasings