| | |

Professionele atleet hardloop sy hart uit vir AfriForum Trauma-slagoffers

Plaasmoorde, plaasaanvalle en die slagoffers wat ná so ’n tragedie agterbly, is ’n saak wat Bennie Roux (41), ’n professionele atleet van Centurion, baie na aan die hart lê.

Roux, ’n boorling van Reitz in die Vrystaat, sê die hartseer van plaasmoorde en –aanvalle het eers vir hom ’n werklikheid geword toe mense na aan hom direk daardeur geraak is. Skoolvriende, ’n oom en hul destydse bure op ’n plaas buite Reitz was almal al slagoffers. “Dit ruk ’n mens as dit so naby aan jou kom.”

Roux verhuur ’n huis aan die AfriForum Trauma-ondersteuningseenheid wat dit as kantore in Centurion gebruik. Die huis het ook konferensiegeriewe en die inkomste wat hieruit gemaak kan word, skenk Roux ook aan die eenheid wat dit vir die ondersteuning van slagoffers kan aanwend.

Roux is ’n kranige atleet wat onder sy vriende as Yster bekend staan. Hy het die Comrades Marathon al 11 keer voltooi. Eerskomende Woensdag pak hy die Munga-wedloop aan wat oor ’n afstand van 400 km strek. Die roete is enig in sy soort in Suid-Afrika. Dit begin by Lakenvlei by Belfast en eindig by die Blyde Rivier Forever Resort. Die roete is glad nie kinderspeletjies nie en stel oneindige hoë eise aan atlete. Net sowat 20 mense neem daaraan deel en omtrent 9 voltooi dit binne die vereiste 5 dae (120 ure).

Volgens Roux moet ’n mens regtig kophou en beplan vir dié roete omdat jy dikwels deur die nag in die donker hardloop en byvoorbeeld seker moet maak dat jou koplig se batterye gelaai is en werk. Jy moet ook deeglik beplan wanneer en waar jy gaan rus, water drink en eet. Die Fanie Botha-staproete van 80 km is ook deel van die Munga-roete.

Roux vertel dat sy liefde vir hardloop eers later gekom het nadat hy besluit het om sy ouer broer uit te daag. Hy was eintlik ’n fietsryer wat die plaaspaaie in die Vrystaat plat gery het. Maar nadat hy inligtingstegnologie by Tukkies kom studeer het, het hy gou besef dat fietsry eintlik gevaarlik is. Vandag kyk hy nie terug nie en behaal hy talle welslae as atleet. Hy het die Munga-roete ook die afgelope twee jaar gewen.

Volgens Roux hou hy van uitdagings en as dit enigsins moontlik was sou hy die wêreld getoer het om nuwe hardlooproetes aan te pak.

Nog ’n hoogtepunt op sy kerfstok is ’n roete op ’n plaas buite Witbank wat hy help ontwikkel en uitlê het wat vir fietsry, 4 x 4-ritte en atlete voorsiening maak.

Roux verduidelik dat hardloop steeds net ’n stokperdjie is, maar waarin hy baie tyd insit. Hy en sy vrou, Isabel, het vroeg in hul lewe besluit om baie hard te werk, sodat hulle vandag die lewe kan geniet. Hy het onder meer as IT-programmeerder gewerk by  Momentum, Vodacom en SARS. Vandag het hy ondernemings en eiendomme waarna hy omsien. “Die lewe is ’n groot opdraande, maar as jy eers bo is, lê die lekker afdraande voor.” Die egpaar het ook drie seuns, Hugo, Ruben en Sion.

Dit is ook in dié gees wat hy elke wedloop aanpak.

Roux daag AfriForum-lede ook uit om by slagofferondersteuning betrokke te raak. Mense wat ’n bydrae tot die fonds wil lewer, kan die woord Trauma na 38312 SMS om R10 by te dra.

Om deelnemers te volg wat aan die Munga-wedloop deelneem, kan hulle www.trackleaders.com besoek. Die skakel sal Woensdag vanaf 12:00 aktief wees.

Soortgelyke plasings