|

Privaat vervolging van Thandi Modise uitgestel tot Desember

Die privaat vervolging van Thandi Modise, speaker van die parlement, is vandag in die Potchefstroomse streekhof uitgestel tot 1-3 Desember 2020. Dít volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in 2018 aangekondig het dat hulle Modise namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) privaat gaan vervolg.

Modise moes vandag redes gee vir haar versuim om in Maart vanjaar in die hof te verskyn op klagtes van dieremishandeling teen haar en die hof het beslis dat sy as gevolg van die COVID-19-pandemie genoegsame rede gehad het om nie te verskyn nie. Modise se regsverteenwoordiger het in Maart geargumenteer dat sy deur pres. Cyril Ramaphosa aangesê is om die COVID-19-pandemie te help bestuur. Modise het vandag aangevoer dat sy nie op 24 Maart in die hof kon verskyn nie omdat pres. Cyril Ramaphosa op 23 Maart ’n dringende vergadering met haar versoek het. Haar prokureurs het die privaatvervolgingseenheid egter reeds op 18 Maart in kennis gestel dat sy weens dié vergadering (op 23 Maart) nie op 24 Maart in die hof gaan wees nie. Modise het ook nie die president in kennis gestel dat sy op 24 Maart in die hof moet verskyn of versoek dat die vergadering geskuif word nie. Modise het op adv. Nel se vraag hieroor gesê dat sy twyfel of adv. Nel dié vraag aan haar sou stel as die president ’n wit man was.

“AfriForum verwelkom die feit dat daar nou uiteindelik ’n datum vir vervolging vasgestel is, maar ons sal nie toelaat dat die beskuldigde hierdie verhoor in ’n rasseherrie laat ontaard nie – die regstelsel is veronderstel om kleurblind te wees. Niemand is verhewe bo die reg nie, nie eens die speaker van die parlement nie. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sien daarna uit om uiteindelik met die verhoor te begin sodat Modise verantwoording kan doen vir hierdie wrede geval van dieremishandeling,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings