|

Privaat vervolging van Modise, Moyane en Bizos tot dán uitgestel

Die privaat vervolging van Thandi Modise (die parlementêre speaker), Tom Moyane (voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens) en Alexis Bizos is uitgestel as gevolg van die COVID-19-pandemie en die staat van inperking. AfriForum se Privaatvervolgingseenheid behartig hierdie vervolgings.

Modise moes op 8 Mei 2020 in die Potchefstroomse streekhof verskyn het om ’n verhoordatum vas te stel en te verduidelik waarom sy op 24 Maart vanjaar versuim het om op klagtes van dieremishandeling teen haar te verskyn. Dié datum is op 8 Mei deur landdros Ben Mtebele uitgestel tot 1 Julie 2020. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, vervolg Modise privaat namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging van Suid-Afrika.

Alexis Bizos, seun van adv. George Bizos, se verskyning vir die vasstel van ’n verhoordatum vir die beweerde aanranding – met die doel om ernstig te beseer – van sy eksvrou Monique van Oosterhout is op 4 Mei 2020 in die Johannesburgse landdroshof uitgestel tot 18 Augustus 2020. Adv. Nel vervolg Bizos namens Van Oosterhout.

Moyane se verhoordatum is op 6 Mei in die Roodepoort-landdroshof tot 8 September 2020 uitgestel. Adv. Nel vervolg Moyane namens Lerato Maila, die ma van Moyane se kleinkind, op ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, asook saakbeskadiging.

Soortgelyke plasings