|

Privaat vervolging: Só werk dit

Deur Marelie Greeff

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se nuwe privaat vervolgingseenheid, het vandeesweek tydens ’n standpuntgesprek by AfriForum verduidelik hoe privaat vervolging werk en wat so ’n eenheid behels.

Die proses in ’n neutedop

Ná ’n saak by die polisie aangemeld is, moet die nasionale vervolgingsgesag (NVG) besluit of hulle gaan vervolg of nie. Sou die NVG besluit om nie te vervolg nie en AfriForum meen daar is wel gronde vir ’n suksesvolle vervolging, kan die privaat vervolgingseenheid die NVG nader (ingevolge die bepalings van Artikel 7 van die Strafproseswet) en aansoek doen vir ’n nolle prosequi-sertifikaat. Hierdie sertifikaat gee aan iemand die reg om vervolging in eie naam in te stel.

Die NVG kan ná ontvangs van ’n aansoek vir ’n nolle prosequi-sertifikaat, weer die saak beoordeel en besluit om wel te vervolg. In so ’n geval sal AfriForum nie geregtig wees op ’n nolle prosequi-sertifikaat nie, maar sal dit beskou word as ’n oorwinning omdat gelykheid voor die reg en die vervolging van alle sake wat meriete het, die organisasie se fundamentele oogmerk is.

“Al is AfriForum se privaat vervolgingseenheid reeds besig om ’n saak te vervolg, is dit belangrik om te weet dat die NVG verplig is om dit weer by ons oor te neem sou dit duidelik raak dat ’n suksesvolle vervolging ’n moontlikheid is. Dié verpligting het as grondslag die staat se plig om die betaling van koste te vermy.

AfriForum kan dit weier, maar dit sal nie sommer gebeur nie, aangesien ons dan verantwoordelik sal wees vir die regskoste van ’n saak wat die staat aanbied om op hulle koste verder te vervolg,” verduidelik Nel.

Dit is verder hoogs waarskynlik dat die NVG ’n saak wat privaat deur ons vervolg word, sal dophou en sou dit lyk asof ons gaan wen, vra om dit weer te vervolg omdat hulle weet dat, sou ons wen, die regskoste aan AfriForum uitbetaal sal moet word. Nel wys daarop dat AfriForum so ’n scenario egter ook as ’n oorwinning sal beskou, omdat dit uiteindelik beteken dat die saak regmatig vervolg word.

Nel noem verder dat hy al gevra is of die staat dan nie met opset so ’n saak sal wil verloor nie. Hy is egter oortuig dat geen aanklaer met opset ’n saak sal verloor nie. Hy verduidelik ook verder dat so ’n saak in die openbaar vervolg word en AfriForum dit nougeset sal volg om seker te maak dat geregtigheid geskied.

Regskoste

Sodra die eenheid in besit van ’n nolle prosequi-sertifikaat is, moet AfriForum finansiële waarborge verskaf om te wys dat ons in staat sal wees om die koste te betaal sou die beskuldigde onskuldig bevind word. “As ons verloor, word AfriForum vir alle regskoste aanspreeklik gehou. Daarom is die keuse van sake asook die voorbereiding daarvoor, uiters belangrik sodat ons suksesvol kan vervolg,” verduidelik Nel. Die Wet stel dit as ’n vereiste dat ons binne drie maande nadat die nolle prosequi-sertifikaat uitgereik is, met vervolging moet begin. Dit laat die klem ook val op deeglike voorbereiding en sorgvuldige oorweging van watter sake om aan te pak.

Nel maak dit egter duidelik dat die fokus nie net op sake van nasionale belang is nie, maar dat AfriForum graag betrokke sal wil raak in sake op plaaslike vlak waar daar aanduidings van selektiewe vervolging is.

 

Uitdagings

Nel sê dat hoewel die konsep van ’n privaat vervolgingseenheid ongelooflik opwindend is, dit ’n moeilike en uitdagende pad gaan wees. “Dit is nog nooit voorheen aangepak nie en alles wat ons gaan doen, is baanbrekerswerk”.

Hy berei homself voor vir uiterste frustrasie in die versameling van verklarings en bewysmateriaal. Daar moet besef word dat anders as NVG-aanklaers wat die hele polisiemag tot hulle beskikking het om verklarings en bewysmateriaal in te samel, ons dit self sal moet kry. Ons besef en berei onsself voor dat daar partye en individue in die proses gaan wees, wat dit vir ons gaan probeer moeilik maak.

Nel wys daarop dat sodra ’n privaat vervolging ingestel word, die vervolging in die normale howe met dieselfde proses en bewysreëls as ander strafsake sal voortgaan. Ons sal, soos die staat, die bewyslas dra om ’n beskuldigde se skuld bo redelike twyfel te bewys.

Hy het gesê die publiek en AfriForum-lede moet besef dat die eenheid nie die name van moontlike beskuldigdes in die media gaan openbaar maak nie. Nie net is dit inherent onregverdig nie, maar dit sal onnodige druk op die eenheid plaas om so ’n saak voor te berei. Sodra ons egter gereed is om vir ’n sertifikaat aansoek te doen, sal ons die spesifieke saak identifiseer.

Volgens Gerrie is die eenheid, wat deur AfriForum-lede  se bydraes moontlik gemaak word, ’n geskiedkundige draaipunt in die land se regsproses. “Ek dink oor ’n jaar of twee gaan ons terugkyk en wonder hoekom ’n privaat vervolgingseenheid nie eerder vroeër die lig gesien het nie,” het hy gesê.

Soortgelyke plasings