--> -->
Spyskaart +

Pretoria naamsveranderingproses op ys na groot steun vir behoud van naam

Desember 18, 2013 deur Esmarie Prinsloo

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die Tshwane-metroraad se besluit om hulle pogings om Pretoria se naam te verander op ys te plaas en eers weer ná volgende jaar se verkiesing oor die saak te besin, verwelkom. Volgens AfriForum is die Metroraad se besluit die gevolg daarvan dat AfriForum se veldtog ter behoud van Pretoria se naam oorweldigende steun van die publiek ontvang het.

Binne enkele dae nadat AfriForum sy veldtog van stapel gestuur het, het meer as 160 000 lede van die publiek reeds per SMS hulle stem ter behoud van Pretoria se naam laat hoor deur hulle naam na 31481 te SMS. Die Metroraad het reeds enkele maande gelede in reaksie op die groot steun vir Pretoria se naam die openbaredeelnamevergaderings wat op 12 Oktober vanjaar sou plaasvind, gekanselleer.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die besluit om die naamsveranderingpogings op ys te plaas, ʼn oorwinning vir almal wat deur die sosiale media en per SMS druk op die Tshwane-metroraad geplaas het om nie voort te gaan met die naamsveranderingsproses nie.

“Die Metroraad se plan om die uitslag van verlede jaar se eerste rondte openbaredeelnamevergaderings, waartydens 81% van deelnemers ten gunste van die behoud van Pretoria se naam was, te omseil, is in sy spore gestuit deur die praktiese demonstrasie van die oorweldigende steun vir Pretoria se naam,” het Kriel gesê.

Kriel het daarop gewys dat die oorwinning wat nou behaal is, nie beteken dat die stryd ter behoud van Pretoria se naam finaal gewonne is nie. Volgens hom sal AfriForum en voorstaanders van Pretoria se naam steeds op hulle hoede moet wees en aanhou om steun vir Pretoria te wys.

“Dit is nodig, aangesien die ANC die proses om Pretoria se naam te verander, sal voortsit, sou hulle vermoed die steun vir Pretoria se naam begin taan,” het Kriel bygevoeg.

Volgens Kriel staan AfriForum se regspan gereed om die saak in die hof te betwis, sou die owerheid na die verkiesing steeds besluit om Pretoria se naam te verander.

AfriForum het die publiek by monde van Kriel bedank vir hulle voorgesette steun ter behoud van Pretoria se naam,

“aangesien die afwering van die naamsverandering die afgelope agt en ʼn half jaar, nie moontlik sou gewees het sonder die oorweldigende steun van die publiek vir Pretoria se naam nie.”