Pretoria jool is terug


Studente verbonde aan AfriForum Jeug se Tukkies-tak, in samewerking met studente van De Goede Hoop koshuis en Soltech, het op Saterdag, 18 Februarie 2017, ‘n jooloptog gehou ten bate van liefdadigheid. Dié studente het altesaam R13 000 ingesamel wat geskenk is aan CMR kleuterskool.
Hierdie inisiatief het gevolg nadat die Universiteit van Pretoria vanjaar besluit het dat die jooltradisie wat vlotbou, blikskud en gesonde studente-aktiwiteite behels, nie meer op dié kampus aangebied gaan word nie. Studente van AfriForum Jeug Tukkies, De Goede Hoop en Sol-Tech het egter op eie stoom hierdie tradisie voortgesit en elkeen van hierdie instansies het ‘n afsonderlike vlot gebou om aan die jooloptog deel te neem.

“Jool is ‘n gesonde studentetradisie wat baie het om te bied en by te dra tot die gemeenskap. Dit gee aan studente die geleentheid om leierskapsvaardighede te ontwikkel, mekaar te leer ken en pret te hê, terwyl hulle werk aan ‘n groter doel, naamlik om terug te gee aan die gemeenskap,” het Jaco Grobbelaar, AfriForum Jeug se Tukkies-koördineerder gesê.

Grobbelaar het ook bygevoeg dat hy graag in die toekoms meer instansies hierby sal wil betrek en dat jool sodoende sal groei sodat alle studente die geleentheid sal hê om deel te neem aan die inisiatief.

Renier Goosen, voorsitter van AfriForum Jeug se Tukkies-tak, sê dat al is dit baie werk, sal hy dit enige tyd weer doen. “Jool is een van die lekkerste, maar ook mees veeleisende aksies wat ek al aangepak het. Dit is ook baie bevredigend om te weet dat ek deel was van iets wat ‘n positiewe bydrae in die gemeenskap gemaak het.” Hy sê dat dit sover een van die hoogtepunte van sy studenteloopbaan was.

Daar is ook ‘n trofee oorhandig aan die span wat die beste vlot gebou het.

Soortgelyke plasings